Grondeisers verkies kontant in plaas van grond

Die grondeiseproses wat steeds aan die gang is, kan in ‘n doodloopstraat beland as grondeisers gehoor gee aan president Jacob Zuma se onlangse beroep dat hulle grond in plaas van geldelike vergoeding vir grond wat hulle ontneem is, moet eis. Agri Limpopo sê in ‘n persverklaring by monde van Theo de Jager, voorsitter van sy …

Die grondeiseproses wat steeds aan die gang is, kan in ‘n doodloopstraat beland as grondeisers gehoor gee aan president Jacob Zuma se onlangse beroep dat hulle grond in plaas van geldelike vergoeding vir grond wat hulle ontneem is, moet eis.
Agri Limpopo sê in ‘n persverklaring by monde van Theo de Jager, voorsitter van sy Landbou-ontwikkelings­komitee, dat die restutisieproses bedoel is om mense te vergoed vir historiese benadeling. Kontantvergoeding vir restitusie-eise dien wel die doel om mense te vergoed, maar gee ook die vryheid van keuse om rasionele besluite te kan neem oor hoe hulle geakkumuleerde rykdom ter verbetering van omstandighede aangewend kan word. “Dit is ‘n baie beter opsie as om grond sonder titelakte, sonder produksiekapitaal en geen kollaterale waarde vir lenings te ontvang. Ekonomiese vryheid is onmoontlik sonder vryheid van keuse,” sê De Jager.
Volgens De Jager bedryf baie van die eisers vir geslagte reeds nie meer die tradisionele familieboerdery waarop aanspraak gemaak word nie en is stedelinge. “Vir hierdie mense is kontant baie meer werd as landbougrond. Die kontant stel hulle in staat om stedelike eiendom of ‘n besigheid te koop. Die praktyk waarvolgens grond aan die staat en nie per titelakte aan die eisers oorgedra word nie, help ook nie die eisers nie. Inteendeel, hulle word ‘bywoners’ op die grond wat hulle eens in familiebesit gehad het,” sê hy.
Produksiekapitaal kan nie sonder ‘n titelakte geleen word nie. Eisers met landboukundigheid is hiervan bewus, en maak die slim keuse om eerder kontant as restitusie te aanvaar. “Hierdie groep het dan die opsie om grond op die ope mark te koop, titelakte te kry, produksielenings aan te gaan en volwaardige kommersiële boere te word,” meen De Jager.
Willem van Jaarsveld, hoofuitvoerende beampte van Agri Limpopo, meen dat die bekommernis dat die staat nie sy doelwitte vir grondoordrag sal bereik nie, maklik ondervang kan word.
“Elke kontantbedrag verteenwoordig ‘n sekere aantal hektaar. Deur die uitbetaalde hektaar by werklike oordragte te tel, sal die somme weer klop.
“Die grootste bedreiging vir die behaling van doelwitte vir grondoordragte aan swart boere, is juis die werkswyse dat eisers nie titelaktes kry nie en die grond dan as staatsgrond aangedui word en nie grond in swart eienaars se besit nie. Met die huidige werkswyse is dit effektief net grond wat privaat en op die ope mark gekoop word deur persone van kleur, wat titelaktes verkry,” sê Van Jaarsveld.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version