Reynier Stroebel sterf dag na 75ste verjaardag

Die begrafnis vind plaas morê, 5 Junie om 12:00 vanuit die N.G. Gemeente Pietersburg-Noord.

POLOKWANE – Op die vraag, vertel my van jou pa, vra Chantelle Geldenhuys “waar begin ek?”

Haar pa, Reynier Stroebel, is ‘n dag na sy 75ste verjaarsdag op 28 Mei, oorlede.

“Hy het aan kanker gely, maar dit het so vinnig versprei dat selfs die onkoloog verbaas was.

“Hy het nie gely nie en ek en my ma, Ina, is baie dankbaar daaroor.”

Reynier was jare in die eiendomsbedryf betrokke en Chantelle vertel dat sy kliënte ook sy vriende geword het.

“Hy het ongelooflik baie vriende gehad en kon ‘n hele paar Afrika-tale praat.

“Dus het hy ook heelwat vriende van ander kulture gehad. Hy het die grootste hart vir mense gehad.”

Sy vertel dat daar niks sleg aan haar pa was nie en dat niemand ooit enigsins iets sleg van hom kon sê nie.

Hy was ook baie betrokke met die koop van sonplase vir Italianers.

“Hy was ‘n hardwerkende man wat tot kort voor sy dood nog gewerk het. Hy was ook baie perfeksionisties en het altyd perfek aangetrek.”

Reynier en Ina het van 2004 af in Polokwane gewoon waar hy ‘n geliefde inwoner en vriend was.

Dirk van Niekerk, prinsipaal van Properties4U, vertel dat Reynier tussen vier en vyf jaar daar gewerk het.

“Hy was baie vriendelik en netjies en ek onthou ons het eendag in die kantoor vir mekaar vertel waarvan ons hou.

“Sy antwoord was blink skoene en hy het nooit skoene gedra wat nie geblink het nie. Hy was ‘n aangename mens om mee saam te werk.”

Reynier laat sy vrou, Ina, dogter, Chantelle en kleinseun Emilio agter.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version