Hulp bly instroom vir baba Mia

Christelle vertel sy is dankbaar vir al die geld en hulp wat mense vir hulle gee.

POLOKWANE – Baba Mia le Gange het Polokwane, en Suid-Afrika se mense se harte aangeraak toe sy op 8 Mei op 26 weke gebore is.

Mia se ma, Christelle Swanepoel, het by Mankweng Hospitaal geboorte gegee, maar omdat Mia spesiale sorg nodig gehad het wou hulle haar na die Limpopo Mediclinic oorplaas. Vriende en familie het hulle na Facebook gewend om geld vir baba Mia in te samel en sy is kort na haar geboorte by die Limpopo Mediclinic opgeneem vir gespesialiseerde mediese sorg.

Lees meer: [LUISTER] Baba Mia se ma vertel hoe dit met haar gaan

Die nuus van Mia het soos ‘n veldbrand versprei en Woensdagoggend het Dianne Broodryk, van JacarandaFM se Good Morning Angels, vir Christelle gebel.

Tydens hierdie oproep het Christelle gehoor dat Retha Ingenbleek van Spar North Rand ‘n donasie van R25 000 vir Mia se mediese uitgawes gemaak het.

“Daar word jaarliks ‘n Spar Woman’s Challenge-wedren gehou en Spar skenk van dié winste aan Good Morning Angels. Die volgende wedren vind op 5 Augustus plaas,” vertel Ingebleek.

Mia le Grange, kort na geboorte saam met haar ma, Christelle Swanepoel. Foto: Verskaf

Nog ‘n luisteraar, Tiaan Erasmus, het Saterdag by die Jacaranda Day R20 000 betaal vir ‘n foto saam met die sanger, Francois van Coke, wat ook aan Mia geskenk is en die Good Morning Angels-fonds dra ‘n verdere R20 000 vir Mia se hospitaalversorging by.

Lees meer: ‘Ek het nooit gedink mense kan so saamstaan nie’, sê baba Mia se ma

“Dit gaan baie goed met Mia. Sy weeg al 1,4 kg en die dokters sê sy is stabiel, maar steeds siek. Sy is nog nie heeltemal buite gevaar nie,” vertel Istha McMillan, Limpopo Mediclinic se kliëntediensbestuurder.

“Die dokter het laat weet dat die dislokasie van Mia se been by die knie is, en dat die knie nou weer in plek is. Daar word behandeling toegepas en in dié stadium is daar nie nodig om geopereer te word nie.”

Christelle vertel sy is dankbaar vir al die geld en hulp wat mense vir hulle gee en het nou moed vir die talle mediese koste wat nog voorlê. Daar is nog ‘n lang pad wat vir Mia voorlê en enigiemand wie ‘n bydrae wil maak kan dit in onderstaande rekening betaal.

Bankbesonderhede:

Child Medi Organisation.

FNB Tjekrekening.

Rekeningnommer: 626 325 810 56.

Takkode: 250655.

Swift-kode: firnzajj.

Verwysing: Baba Mia.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version