Local NewsNews

Bere bring berusting vir kinders in trauma

Jakkie Wessels, President van die Limpopo Streekshof, het besluit om 'n projek te loods waarin teddiebere vir hierdie kinders gebrei word.

POLOKWANE – Wanneer ‘n kind in die hof moet getuig is dit gewoonlik ‘n moeilike ervaring waarvoor vertroosting en leiding nodig is.

Die kind word direk blootgestel aan die herlewing van ‘n misdaad en benodig berusting.

Dié wat hulle na die hof begelei, is heel dikwels nie hul ouers of iemand na aan hulle nie, maar professionele mense soos maatskaplike werkers.

“Ek het aan al die landdroste van die verskillende streekshowe in die provinsie ‘n uitdaging gestel om elk 20 teddiebere te kry vir die projek. Die bere moes handgemaak wees en nie gekoopte, winkelbere nie. Almal ken iemand wat kan brei en dus hoef hulle nie self te brei nie.”

Jakkie vertel dat skenkings instroom van oral in die land en dat sy selfs wol vir die bere as donasies ontvang.

“Hierdie kinders weet nie wat om te doen as hulle hier kom nie en is baie bang. Sommige van hulle hou sommer twee bere op ‘n slag vas. Die bere bring vertroosting en nie een beer lyk soos ‘n ander nie.”

Sy vertel dat daar ook speelareas by van die howe is, waar kinders kan speel terwyl hulle wag.

“Dikwels kom ‘n enkelouer met twee of drie kinders en dan moet die kinders heeltyd in ‘n vertrek sit. Nou kan hulle by van die howe buitekant speel. Hulle kan bal skop en net kind wees. Van die howe het besluit om dit deel van hulle 67-minute vir Mandelaprojek te maak om die speelarea by hulle spesifieke howe te skep.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button