Local NewsNews

Riaan gereed om sy eerste Comrades aan te pak

Riaan de Nysschen, sê die Comrades-gogga het hom in 2015 gebyt

POLOKWANE – Op Sondag gaan duisende mense van omtrent 60 lande by Durban Stadsaal saamtrek om aan die jaarlikse Comrades Marathon deel te neem.

Een van dié ongeveer 20 000 hardlopers, Riaan de Nysschen, vertel wat hom laat besluit het om aan die strawwe kompetisie deel te neem.

“Ek het geen vooruitsig dat dit maklik gaan wees nie. Die persoon wat sê dit is maklik, lieg,” vertel hy.

Die Comrades-gogga het hom in 2015 gebyt terwyl hy na die wedloop gekyk het. Hy het besluit dat hy ook wil deelneem en het aan Park Run-wedlope begin deelgeneem. Hy het ook soms saam met sy neef aan ‘n 5 km wedloop deelgeneem.

“Op 29 November 2016, ‘n dag voor afsnytyd vir inskrywings vir die Comrades, het ek my finale besluit geneem dat ek wil deelneem”

“In Januarie hierdie jaar het ek by Pietersburg Atletiekklub aangesluit en saam met hulle begin oefen.”

Hy vertel dat hy vyf dae ‘n week oefen en dat hy probeer om gesonde en organiese kos te eet.

Hy drink ook baie water en glad nie alkohol nie.

“My eerste 21 km marathon was die Seeff Wedren op 21 Januarie, en my eerste 42 km marathon was op 18 Februarie, naamlik die Capricorn 4-in-1 Race. Ek het baie bulte uitgehardloop, asook langafstande gehardloop en tydtoetse gedoen ter voorbereiding vir die Comrades. Die laaste twee weke oefen ons soos ons wil, maar ons oefen in die tweede laaste week tussen 40% en 50% van wat ons gewoonlik oefen en in die laaste week tussen 15% en 20% van wat ons gewoonlik oefen.”

Riaan vertel verder dat hy met baie gebed homself geestelik voorberei het vir dié marathon. Daar is twee Bybelversies, Fillipense vier vers 13 en Hebreërs 12 vers een wat vir hom van toepassing is.

“Ek kan nie enige iemand uitsonder wat my motiveer nie, almal in die klub is van onvervangbare waarde.”

Aangesien dit die eerste keer is dat hy aan die Comrades deelneem, het hy nie ‘n spesifieke tyd in gedagte om dit te voltooi nie.

“Ek wil net klaarmaak. Ek wil graag ‘n ‘back-to-back’ behaal. Dit is wanneer jy jou eerste marathon voltooi, en die jaar daarna, die tweede een. Die enigste tyd wat jy hierdie medalje kan ontvang is met jou eerste twee Comrades-wedlope.”

Sy raad aan ander hardlopers is om dit so gou as moontlik te begin doen.

“Ek is spyt dat ek nie vroëer begin deelneem het nie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button