Godsdiens in skole: uitslag voorbehou

Altesaam 24 000 openbare skole landwyd sal geraak word in die uitspraak van die hofsaak waarin 'n hofbevel gevra word om die beoefening van godsdienspraktyke in openbare skole te stop.

LIMPOPO – Uitspraak is verlede week in die Hooggeregshof in Johannesburg voorbehou in die saak wat in 2014 aanhangig gemaak is deur die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie (OGOD). Die organisasie vra vir die beeïndiging van godsdienspraktyke by skole. Dit sluit in die bekende praktyke rondom saalopening soos Bybel lees, bid en gewyde sang, asook die inperking van individuele geloofsoortuigings van leerders en opvoeders.

Die saak teen ses Afrikaanse skole is ‘n waterskeidingsaak wat gaan bepaal of godsdiensonderrig nog in openbare skole toegelaat gaan word. Dit raak dus ook die skole hier op Mokopane. Die Federasie vir Beheerliggame vir Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het die ses betrokke skole in die hofsaak bygestaan en Solidariteit is gevoeg as ‘n vriend van die hof.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen OGOD se aansoek druis lynreg in teen 95% Suid-Afrikaners wat hulle met ‘n geloof kan identifiseer.

Ds. Peet Venter, leraar van die N.G. Kerk Piet Potgietersrust, het op die N.G. Kerk se standpunt gewys. Die kerk meen OGOD se aansoek ‘n inherente skending van basiese menseregte soos vervat in die Handves van Regte, die Grondwet (Artikel 15(2) en Skolewet (artikel 7) wat duidelike uitsprake maak oor wat toelaatbaar is ten opsigte van Godsdiensbeoefening by skole en wat nie.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Exit mobile version