‘Radios bring mense byeen’

Radiokommunikasie is die beste en vinnigste manier om met mekaar te kommunikeer en dwing mense om weer betrokke te raak by mekaar.

MOKOPANE – Volgens Vossie Vosloo van Scorpion Sekuriteit is die Mookgophong gemeenskap stadig maar seker besig om terug te keer na hulle radios.
Vosloo het op 23 Mei met die vroue van die VLU se tak op Mookgophong gesels or plaasveiligheid.
Marie Fourie, skakelbeampte van die tak, het aan Bosveld gesê Vosloo reken die grootste probleem vir al die plaasaanvalle is dat ons ‘leierloos’ geword het en mense onbetrokke met mekaar geraak het.
“Ons het al hoe meer begin staatmaak op selfone. As die krag afgaan, is ons selfone ook af omdat ons op elektrisiteit aangewese is.
“Afgesien van dit is die netwerkopvangs ook nie altyd betroubaar nie. Die gemeenskap is besig om terug te keer na hulle radios. Radios het gemeenskappe in die verlede gedwing om betrokke by mekaar te raak.”
Volgens Vosloo is daar tans 250 radios in Mookgophong wat gebruik word en is dit die beste en vinnigste kommunikasiemiddel. “In die verlede het plaasvroue, asook vroue van die gemeenskap, met mekaar oor hulle radios gekommunikeer, resepte, raad en wenke uitgeruil. Dit was soms irriterend vir sommige mense, maar die gemeenskap was betrokke by mekaar. Kinders wat vir naweke huistoe gekom het, het op ‘n Vrydagmiddag koshuisstories uitgeruil oor die radios, en die Boere het boerderysake gepraat.”
Vosloo meen as kommunikasie in plek is, is die oorlog al halfpad gewen. “Elkeen het so in hul eie wêreld begin leef, dat ons nie meer op mekaar se behoeftes ingestel is nie.”
Vosloo het die vroue geadviseur om hulself te bewapen, maar ook te onthou om hulle wapens altyd op ‘n veilige plek neer te sit sodat dit altyd maklik verkrygbaar is in tye van nood.
Hy sê geen vrou is al ooit skuldig bevind omdat sy haarself verdedig het nie.
“ Ons moet ook sorg dat ons huise genoegsaam en voldoende belig is buite om die huis.”
Vosloo sê dit is vir hom skokkend en teleurstellend om te sien dat in ‘n gemeenskap van omtrent 5 000 tot 6 000 mense, daar  slegs 10 vroue in Mookgophong is wat betrokke is by die VLU. Hy sou graag wou sien dat die vroue van lede van organisasies soos die TLU, DLU en AfriFourm meer betrokke raak by die VLU. “Vroue dra ‘n gemeenskap in moeilike tye. Kyk maar om jou hoeveel kerke loop leeg. In sommige dorpe word kerkgeboue verkoop en kleuterskole of ander besighede word daar bedryf. ‘n Ketting is net so sterk soos sy sterkste skakel, en as julle as vroue in die gemeenskap nie gaan hande vat en saam staan nie, gaan die gemeenskap se moraliteit tot niet gaan.”
Marie doen ‘n beroep op die vroue van Mookgophong om betrokke te raak by die VLU. “Nie net kuier ons lekker saam nie, maar ons leer ongelooflike leersame en verrykende kreatiwiteit by mekaar. Dit is nodig dat ons onsself verryk deur kreatiwiteit, want dit is wat maak dat ons nie stagneer en in ‘n groef verval nie. Dit hou ook ons brein skerp, wakker en paraat.”
Indien jy een van die vroue is wat hier lees en graag betrokke wil raak by hierdie jarelange organisasie, kontak gerus vir Marie by 082 786 2820.
redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

 

 

Exit mobile version