Debbie Mouton, die juweel van Polokwane

Haar naam word gekoppel aan drie juwelierswinkels en twee reistas-winkels.

POLOKWANE – As jong skolier het Debbie Mouton daarvan gedroom om met God se diamante en edelstene te werk en het besluit om teologie te studeer.

Min het sy geweet dat God ander diamante en edelgesteentes vir haar toekoms ingedagte het.
Haar naam word gekoppel aan drie juwelierswinkels en twee reistas-winkels en sy vertel dat sy nie destyds gedink het haar pad sou dié rigting loop nie.

“Ek het groot geword in Roodepoort en in gr. 9 het ek die roeping ervaar. Skool was nie vir my maklik nie, aangesien ek gevoel het ek het nie die vakke nodig wat aangebied is nie. Ek was baie meer gefokus op sport as op akademie.”

Sy vertel dat haar ma in haar gr. 12 jaar, op die dag van haar matriekafskeid, oorlede is en haar pa 13 maande later in ‘n fratsongeluk.

“Ek het niks gehad nie, net die kar wat my pa vir my in my gr. 12 jaar gekoop het. Ek het dit nie destyds besef nie, maar besef nou eers dat ek niks gehad het nie. Ek het van 06:00 tot 08:00 puntdiens gedoen en dan van 08:00 tot 13:00 klas gedraf. Ek het smiddae as datatikster gewerk.”

Sy sê sy het dikwels verveeld geraak met haar werk maar die besigheid waar sy werksaam was se bestuur het dan vir haar nuwe poste geskep. Na sy haar studies voltooi het, het sy werk gesoek as dominee, maar het op die einde permanent by haar destydse werkgewer gewerk.

“In 1997 het ek na Polokwane verhuis waar ek by Bosman Juweliers begin werk het. Die winkel het ‘n ryk geskiedenis en in 2002 het ek dit oorgekoop. In 2008 het ek die geleentheid gekry om twee winkels in ‘n winkelsentrum te kry.”

Sy vertel sy het die bestuur by dié sentrum geken en sy so terloops aan hulle genoem het dat sy graag nog ‘n winkel wil hê. Ongeveer ‘n maand later het die bestuur haar gebel en aangebied om vir haar twee winkels te bou. Later het sy die winkels wat sy in die sentrum geopen het toe gemaak en na Savannah Mall geskuif.

Sy was ook betrokke by die bou en uitleg van haar winkel in Mall of the North.

“Ek het geen opleiding gehad nie. Alles wat ek geleer het, het ek geleer terwyl ek gewerk het. Ek het ‘n baie goeie mentor gehad en ons het baie goed saamgewerk.
“My werk en lewe is besonders. Ek is nie bediening toe nie, maar werk met God se grootste geskenke, goud, diamante en edelstene.”

Sy vertel dat sy ook juwele ontwerp wat haar werk baie lekker en uitdagend maak.

“Die mees bevredigendste is om die vrou se gesig te sien as ek haar voltooide produk vir haar gee. Daar was een keer ‘n paartjie by my en die vrou het in trane uitgebars toe ek die produk vir haar gee. Ek en haar man het ook in trane uitgebars, en daar staan ons drie toe en huil,” onthou sy.

Debbie vertel dat balans tussen jou werk en persoonlike lewe van uiterse belang is en dat sy gelukkig is om personeel te hê wat haar passie en visie deel.

“Dit is nie net my winkels nie, dit is hulle s’n ook. Hulle moet dit suksesvol maak. Ek betrek hulle by alles, van aankope tot besluite wat geneem moet word,” verduidelik sy.

Debbie het vir 10 jaar op die Sakekamer se bestuur gedien en was in 2006 president van die Sakekamer. Tans dien sy ook op die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se komitee. In haar vrye tyd durf sy graag die langpad op haar motorfiets aan of geniet sy om rustig by haar huis met haar honde en verloofde, Renier Esterhuizen, te wees.

“My lewe het uitgedraai persies soos wat dit moes. Die Here weet beter en mens moet dit nie bevraagteken nie. Laat toe dat Hy jou lewe bestuur.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version