Local NewsNews

Veediewe betrap: beweerde abattoir-sindikaat ondersoek

'n Boer van Roedtan slaak 'n sug van verligting nadat sy 30 bonsmarabeeste wat Vrydagnag gesteel is, terug in die kraal is.

MOKOPANE – Die beeste van Ed Cloete is net betyds in Ga-Madiba village opgespoor. Bosveld het op 26 April berig oor ‘n ander boer, Johan Uys, wie se beeste ook gesteel is en by die Limpopo Red Meat abattoir gevind is.

Lees meer: Veediefstal: abbatoir sekuriteit word opgeskerp

Volgens ‘n vertroulike bron is Cloete se beeste gesteel op die huurplaas Springbokbult van Arno van Rooyen, op die Immerpanpad.

Cloete wat in Pretoria woon het aan Bosveld vertel hy was vroeg Saterdagoggend op die plaas om sy beeste van die huurgrond na sy eie grond te skuif. “Toe ek by die beeskraal kom en sien daar is net twee beeste in die drukgang het ek dadelik geweet my beeste is gesteel.” Cloete het die voorval onmiddellik aan ‘n burgerlike groep gerapporteer en met die vinnige reaksie, hulp en inligting van die gemeenskap, DLU, Roedtan Polisie, Crime Investigation van Modimolle en Mokopane se veediefstaleenheid was hulle spoedig op die spoor van die veediewe.

Cloete sê hy het inligting ontvang dat sy beeste moontlik by die abattoir in Mokopane kan wees en die verdagtes is in die omgewing gewaar in ‘n wit Nissan Hardbody met ‘n sleepwa sonder ‘n registrasienommer en ‘n enkelkajuit wit Isuzu met ‘n sleepwa.

Cloete is Maandagoggend om 02:00 na die abattoir. Terwyl hy daar is het hy die verdagte Nissan voertuig by die abattoir sien inry. Die bestuurder van die voertuig was in die abattoir se uniform en gereed om te gaan werk, sê Cloete. Cloete het die inligting dadelik aan adj.-offisier Brand Oosthuizen deurgegee om verder te ondersoek.

Charles Booysen, Direkteur, Limpopo Red Meat abattoir het die arrestasie van ‘n werknemer van die abattoir bevestig.

“Ek is self besig met ‘n ondersoek en is bewus dat daar ‘n sindikaat binne die abattoir is wat kontakte buite die abattoir ook het. Ek gaan binne die volgende twee maande beter omheinings aanbring, kameras installeer en ‘n gewapende reaksiemag in plek bring.”

Adj.-offisier Brand Oosthuizen van Roedtan Polisie het aan Bosveld bevestig dat twee verdagtes in hegtenis geneem is. Die saak word ondersoek en nog arrestasies word verwag.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button