Volle vaart, groot aksie bou op

Die jaarlikse Bosveld Intervarsity, waar Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé mekaar op verskeie sportgebiede aandurf, is in volle swang. Verlede jaar het Tommies weer lewe in dié inisiatief geblaas en ‘n besoekergetal van byna 6 000 tydens die rugbykragmeting gelok.Vanjaar is Pieties as gasheerskool slaggereed en hul terrein in topvorm. “Die …

Die jaarlikse Bosveld Intervarsity, waar Hoërskool Pietersburg (PHS) en Hoër Tegniese Skool Tom Naudé mekaar op verskeie sportgebiede aandurf, is in volle swang.
Verlede jaar het Tommies weer lewe in dié inisiatief geblaas en ‘n besoekergetal van byna 6 000 tydens die rugbykragmeting gelok.Vanjaar is Pieties as gasheerskool slaggereed en hul terrein in topvorm.
“Die publiek word uitgenooi om in al die opwinding te deel. Mense kan ‘n karnaval­atmosfeer verwag met eet- en drinkgoed te koop en stoere ondersteuners van die twee skole wat gemoedelik kan verkeer en rugby geniet,” sê Pierre Coetzee, PHS-sporthoof.
Die week se program is propvol aktiwiteite wat geesvanggeleenthede insluit. PHS se perderuiters het Maandagoggend die begin van die Bosveld Intervarsity met ‘n unieke vaandelparade tydens die skoolopening aangekondig waarna die hele skool ‘n massa ‘kneel down’ gehou het om vir die suksesvolle aanbieding van die geleentheid te bid.
Tommies het tydens húl opening die simboliese dood van PHS se gelukbringer, Pietie, uitgebeeld en ‘n plegtige begrafnis gehou.
Maandagmiddag het die jukskei- en skaakspelers van die twee skole mekaar gepak. Agter die skaakbord was Pieties die beter span wat met 10-2 gewen het, maar hul het op hul neuse gekyk toe die skeie begin klap en Tommies hulle behoorlik met 20-10 laat les opsê het.
Dinsdag het Tommies die Pieties se storieboom douvoordag met boodskappe versier en ‘n banier met die woorde “fluit fluit jou storie is uit” opgesit. Hulle het ook hul hare in ‘n verskeidenheid kleure laat kleur, terwyl Pieties se religiekomitee ‘n spesiale Bosveld Intervarsity-muntlegging gehou het wat vir komiteeprojekte aangewend sal word.
Later die middag is groot sportaksie op die netbalbane voortgesit. Behalwe vir die o.15B-span wat met 10-13 die spit teen Tommies afgebyt het, was Pieties onoorwonne. Die eerstespan het ‘n pragwedstryd gespeel en met 41-9 oorwinningskrete ver laat hoor.
Die sokkerspanne het terselfdertyd ‘n wenner tussen die skole bepaal en Pieties moes die knie met 1-2 voor Tommies buig.
Gister (Woensdag) sou die twee skole se onderwysers na verwagting op die rolbalbaan sake uitspook waarna die leerders vandag (Donderdag) op die boogskietbaan sal kompeteer. Die groot afwagting is natuurlik vir Saterdag se rugbybotsings. Die oumanne-wedstryd beloof om groot vermaak te bied.
Met die hoofborg, BB Motorgroep kan besoekers ook ‘n verskeidenheid voertuie op uitstalling by PHS besigtig. Die twee eerste­spankapteine sal Saterdag per helikopter deur die handelaar ingevlieg word en op skouspe­l­agtige wyse die veld betree.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
en Barry Viljoen
>>barryv.observer@gail.com

Camisa Giuliano van Tommies maak ‘n skuif op die skaakbord.
PHS-leerders kniel tydens ‘n massagebed.
Tommies se hoofleiers, Ronay Delport en Armich Lottering, in PHS-uniform.
Antonette Jordaan, onderwyser van Tom Naudé se hare word deur Johan Potgieter en Reghardt Williams gespuit.
Chris Viljoen van Tommies wys sy spanmaat waar die skei moet val.
Pietie-netbalspeler, Zené de Waal gee die bal blitsig uit.
Tommie-hoofseun en eerste­spanspeler, Armich Lottering, kry ‘n veelkleurige hooftooisel van afrigter, Roelof Oosthuizen.
PHS se Yolandé Smith tydens die jukskeikragmeting.
Eerstespan-netbalspelers, Roeline van Breda van Tommies en Tiffany Africa van PHS in volle vaart.
Orifha Mbedzi,Tommies se eerstenetbalspan raap die bal voor ‘n Pietie weg.
Micha Becker en Kayla Marx dra PHS se vaandel tydens Maandag se opening saam met die skool se perderuiters.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version