Local NewsNews

Sam Liversage sterk aan na plaasaanval

Drie verdagtes wat waarskynlik met Maandagoggend se aanval op Sam Liversage op sy plaas in die Roedtan-distrik verbind kan word, sou na verwagting gister (Woensdag) in die Modimolle Landdroshof verskyn het. Die drie is aangekeer kort nadat Liversage in sy huis in die bors geskiet is. Hy sterk tans in die Netcare Pholoso Hospitaal in …

Drie verdagtes wat waarskynlik met Maandagoggend se aanval op Sam Liversage op sy plaas in die Roedtan-distrik verbind kan word, sou na verwagting gister (Woensdag) in die Modimolle Landdroshof verskyn het.
Die drie is aangekeer kort nadat Liversage in sy huis in die bors geskiet is. Hy sterk tans in die Netcare Pholoso Hospitaal in Polokwane se intensiewe sorgeenheid aan en toon goeie vordering volgens sy seun, Willie.
‘n Goeie vriend van Liversage, Japie Spanio, sê die suksesvolle inhegtenisneming van die boosdoeners is aan goeie samewerking van die gemeenskap, polisie en Heritage Protection Group (HPG) te danke.
“Die boeregemeenskap in Roedtan is toegewyd daaraan om mekaar te beskerm en in nood by te staan.”
Spanio sê die Liversage-egpaar het Maandag omstreeks 04:10 weens geluide in die huis wakker geword.
“Beide het hul vuurwapens opgeneem waarna Sam stadig deur die huis beweeg het om ondersoek in te stel. Meisie het in die kamer gebly. Toe Sam die studeerkamer se deur oopmaak was daar blykbaar een verdagte voor hom terwyl ‘n ander een op die vloer gelê het en vier skote afgevuur het.
“Sam het glo een skoot geskiet, die deur toegeslaan en na die slaapkamer teruggekeer omdat hy besef het dat hy gewond is,” sê Spanio.
Die skurke het glo op die vlug geslaan terwyl Meisie haar tabletrekenaar gebruik het om Willie, wat in Lephalale woon, te skakel en hulp te ontbied.
Naburige boere, die polisie en HPG-lede was vinnig op die toneel. HPG-spoorsnyers het die verdagtes se spoor vinnig gevolg tot waar die polisie die arrestasie gemaak het.
‘n Vuurwapen is ook in die verdagtes se besit gevind.
AfriForum Limpopo se distrikskoördineerder, Jaco Grobbelaar het alle betrokke partye wat tot die arrestasie gelei het, geprys.
“Danksy goeie samewerking tussen die verskillende rolspelers kon ons die aanvallers vastrek. Dit is van kardinale belang dat kragte voortdurend saamge­snoer word om veiligheid in en om ons woongebiede te verhoog en misdadigers vas te trek.
“Hierdie is nog ’n goeie voorbeeld van hoe gemeenskappe hulself teen misdadigers kan beveilig,” het hy gesê.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het die voorval bevestig, maar kon nie teen druktyd sê of die ver­dagtes reeds voor die hof verskyn het nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button