Werkloosheid, sosiale opstande SA se voorland

Een van die land se mees gerespekteerde ekonome en Sake24 se Ekonoom van die Jaar 2016, Dawie Roodt, het verlede Donderdag tydens ‘n sake-ontbyt wat deur Hoërskool Pietersburg (PHS) se departement van ekonomiese- en bestuurswetenskappe georganiseer is, verskeie aspekte van die ekonomie met plaaslike sakelui gedeel. Die geleentheid het die skool se verwagtinge oortref met …

Een van die land se mees gerespekteerde ekonome en Sake24 se Ekonoom van die Jaar 2016, Dawie Roodt, het verlede Donderdag tydens ‘n sake-ontbyt wat deur Hoërskool Pietersburg (PHS) se departement van ekonomiese- en bestuurswetenskappe georganiseer is, verskeie aspekte van die ekonomie met plaaslike sakelui gedeel.
Die geleentheid het die skool se verwagtinge oortref met 283 belangstellendes wat dit bygewoon het. PHS-skakelbeampte, Anna-Marié Schoeman, sê Roodt is genooi om plaaslike besighede die geleentheid te bied om die ekonomiese stand van sake in Suid-Afrika vanuit die perd se bek te hoor.
Roodt het aspekte soos wêreld- en plaaslike ekonomie, politieke invloed op die ekonomie, ekonomiese groei, bekommernisse en vooruitsigte aangespreek.
“‘n Patronaat is om president Jacob Zuma gevorm en die sentralisasie van mag veroorsaak dat daar individue is wat hulself verryk. Suid-Afrika het ‘n swak geldeenheid as gevolg van swak politieke leierskap.
“In die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, se tyd het die staat se skuld 50% van die land se totale ekonomie beslaan en het dit hom 14 jaar geneem om tot op 23% te bring. In Pravin Gordhan se tyd het die staat se skuld weer tot op 46% gestyg. Daar is tans drie miljoen staatsamptenare en almal se salarisse is 40% hoër as die privaatekwivalent. Ons weet klaar daar kom heffings in persoonlike- en boedelbe­lasting en hoër belasting en ‘n groter staat is ons voorland,” sê Roodt.
Oor ekonomiese groei verwag hy net meer as 1% as gevolg van die goeie reën en groot bydrae wat die landboubedryf op dié gebied kan lewer.
“Maar dit is nie goed genoeg wanneer die bevolkingsgroei van 1% en die nege miljoen werkloses in ag geneem word nie. Ek is ook baie bekommerd oor sosiale opstand wat deur werkloosheid aangevuur word.”
Oor algemene wêreldgebeure sê Roodt dat werkloosheid ‘n groter probleem gaan word omdat meer nywerhede van arbeids­intensiwiteit na meganisasie oorskakel. “Die wêreld raak meer virtueel. Ons beleef dit reeds, bankkaarte word gebruik en nie meer kontant nie, oorplasings is net ‘n inskrywing en nie geld nie. Facebook is die beste voorbeeld van ‘n virtuele gemeenskap.”
Op ‘n positiewe noot sê Roodt dat Suid-Afrika nog bevoorreg is omdat die Reserwebank goeie werk doen om rentekoerse laag te hou. “As jy skuld maak, gebruik dit om geld in te bring. Geld is nog goedkoop, maar moenie leen om met vakansie te gaan nie,” waarsku hy en sluit af dat dit goed is om geld in die buiteland te belê.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

 

Exit mobile version