Polisie krap kop na drie lyke binne vier dae in provinsie gevind is

Terwyl die polisie in Tubatse buite Burgersfort Dinsdag met ‘n soektog na die vermiste Thomas Magolela besig was, is die lyke van minstens drie mense sedert verlede Woensdag regoor die provinsie opgespoor wat óf koelbloedig vermoor óf vroeër as vermis aangemeld is. Magolela het op 27 April vanaf Gauteng by sy huis in Pidima buite …

Terwyl die polisie in Tubatse buite Burgersfort Dinsdag met ‘n soektog na die vermiste Thomas Magolela besig was, is die lyke van minstens drie mense sedert verlede Woensdag regoor die provinsie opgespoor wat óf koelbloedig vermoor óf vroeër as vermis aangemeld is.
Magolela het op 27 April vanaf Gauteng by sy huis in Pidima buite Burgersfort na werk aangekom, sy motorsleutels geneem en gery. Hy is sedertdien nie weer gesien nie en het ook nie weer vir werk in Tembisa opgedaag nie. Hy ry ‘n Mazda 3 met registrasienommer SPL 957 GP.
Intussen ondersoek die polisie die moord op ‘n vrou wie se liggaam verlede Woensdag langs die treinspoor naby Schoemansdal buite Louis Trichardt gevind is.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê sy het verskeie steekwonde regoor haar lyf gehad en is steeds onbekend.
Verlede Donderdag het ‘n voetganger by Munjesi buite Louis Trichardt op die lyk van die 75-jarige Kutama Thali afgekom nadat sy ongeveer twee weke gelede as vermis aangemeld is.
Haar liggaam was reeds in ‘n gevorderde ontbinde stadium en die nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood bepaal, volgens Ngoepe. Hy sê Thali en haar dogter het op 22 April ‘n argument gehad waarna sy gedreig het om die huis te verlaat. “Toe haar dogter die volgende oggend wakker word, was haar ma nie in haar kamer nie. Sy het glo geen persoonlike besittings saam met haar geneem nie,” sê Ngoepe.
In Leboeng buite Burgersfort is die lyk van Peter Serope Maoko (45) Maandag in ‘n nabygeleë dam gevind wat sedert verlede Woensdag vermis was. “Sy vrou het die oggend wakker geword en kon hom nêrens opspoor nie waarna sy dadelik lede van die gemeenskap ingelig en die polisie in kennis gestel is waarna ‘n soektog gevolg het.
Lede van die Thohoyandou Soek- en Reddingseenheid, honde-eenheid, GPF-lede en lede van die gemeenskap het na die vermiste man begin soek,” sê Ngoepe.
‘n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen.
Enigiemand met informasie wat kan help met die ondersoek kan hul naaste polisiestasie skakel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Die polisie is op soek na Thomas Magolela wat einde April in Burgersfort vermis geraak het.
Die lyk van ‘n onbekende vrou is buite Louis Trichardt gevind.
‘n Lid van die forensiese eenheid op die toneel buite Louis Trichardt waar Kutama Thali se liggaam gevind is.
Exit mobile version