Malaria: Paniek neem toe oor pandemie

Terwyl daar grootskaalse paniek oor die hoë malariasyfer in Limpopo heers, meen die departement van gesondheid hulle is in beheer en doen alles in hul vermoë om die krisis te hanteer en te sorg dat pasiënte die nodige medikasie en sorg ontvang. Die departement se woordvoerder, Derick Kganyago sê 620 gevalle is sedert 23 April …

Terwyl daar grootskaalse paniek oor die hoë malariasyfer in Limpopo heers, meen die departement van gesondheid hulle is in beheer en doen alles in hul vermoë om die krisis te hanteer en te sorg dat pasiënte die nodige medikasie en sorg ontvang.
Die departement se woordvoerder, Derick Kganyago sê 620 gevalle is sedert 23 April in die provinsie aangemeld en dat verteenwoordigers van die National Institute For Communicable Diseases (NICD) Dinsdag in die provinsie was om hulp aan te bied en was glo terselfdertyd tevrede met die departement se pogings om die toenemende risiko vir inwoners aan te spreek. “Sedert Paasnaweek het die besmettings skielik begin styg en kan moontlik aan die toevloei van buitelanders vanaf Zimbabwe en Mosambiek na die jaarlikse Paasbyeenkoms by Moria toegeskryf word. Verskeie mobiele klinieke met voldoende voorraad is reeds in dele van die provinsie ontplooi waar inwoners getoets kan word en dadelik orale behandeling ontvang. Ons het ook voldoende voorraad by hospitale om pasiënte te behandel,” sê Kganyago.
Hy sê hospitale soos Donald Fraser en Nkhensani was oorvol sedert die einde van die Paasnaweek, maar die meerderheid pasiënte is reeds ontslaan. “Dokters en mediese personeel het deurnag gewerk om pasiënte te behandel en so gou moontlik te ontslaan. Selfs personeel van die mediese depots het onverpoos gewerk om medisyne so gou moontlik by hospitale te kry.”
Kganyago sê die departement spuit jaarliks as voorsorg van September tot April veral inwoners van die Mopani- en Vhembedistrikte se huise, maar dat die proses uitdagend is omdat sommige inwoners meen die chemikalieë is skadelik en beamptes nie toegang tot hul huise wil gee nie.
Die LUR van gesondheid, Phophi Ramathuba het verlede week tydens ‘n besoek aan Donald Fraser Hospitaal die krisis as ‘n pandemie beskryf nadat meer as 600 voorvalle regoor die provinsie aangemeld is.
Dit blyk die meeste slagoffers waarmee Polokwane Observer gesels het, ‘n week voordat hulle gediagnoseer is met vakansie aan die oostekant van die provinsie was en het onder meer plekke soos die Kruger Nasionale Park (KNP), Phalaborwa en Thohoyandou besoek.
Ramathuba het gesê die meeste voorvalle is by Donald Fraser-, Siloam-, Malamulele- en Nkhensani hospitale aangemeld. In Maart is daar 43 voorvalle in Waterbergdistrik gerapporteer.
Polokwane GPF-woordvoerder, Johan Retters se vrou, Mariaan het dae lank in die Mediclinic Limpopo se intensiewe sorgeenheid deurgebring. “My vrou het by die dood omgedraai. Ons het Paasnaweek by Letaba in KNP gekamp en was skaars terug in Polokwane toe sy van erge hoofpyn en koors begin kla het. Die volgende dag is sy dokter toe wat haar dadelik vir malaria laat toets het waarna sy in die hospitaal se hoësorgeenheid opgeneem is. Drie dae later is sy ontslaan omdat sy goeie vordering getoon het, maar na twee dae by die huis het sy ‘n terugslag gehad wat haar in die intensiewe sorgeenheid laat beland het,” sê Retters.
Tydens haar verblyf in die hospitaal het Retters van ‘n ma en seun verneem wat ook in die intensiewe sorgeenheid met malaria opgeneem is. Die gesin het toevallig dieselfde naweek ook by Letaba gekamp. Retters het verder gesê ‘n goeie vriend van hom se seun en oom het ook malaria in Phalaborwa opgedoen.
Na wat verneem word is minstens 13 Louis Trichardt-inwoners reeds positief vir malaria getoets. Twee van Adele Jackel se vriendinne lê tans in ‘n plaaslike hospitaal op dié dorp. “Ons het twee weke gelede die KNP se Letaba- en Punda Maria-kampe besoek en hulle is nie lank daarna nie met malaria gediagnoseer.”
Tiaan Mostert van Levubu het Maandag vir ‘n laaste bloedtoets gegaan en is negatief getoets nadat hy baie siek was. “Ek was glad nie naby die KNP nie, maar wel een aand op Waterpoort waarna ek begin siek gevoel het. Gelukkig was ek nie in ‘n hospitaal opgeneem nie en het tuis aangesterk,” sê Mostert. Hy beweer sy huisdokter het hom Maandag meegedeel dat hy verlede Saterdag sewe pasiënte met malaria laat opneem het.
Volgens onbevestigde inligting is daar vroeër die week ‘n man van Alldays in die Elim Hospitaal aan malaria oorlede. Kganyago kon teen druktyd nie sê hoeveel sterftes as gevolg van malaria reeds aangemeld is nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version