Snoesige bedsokkies tuisgemaak met liefde

Dié winter maak vroue van die Koraal Aftree-oord bedsokkies om geld intesamel vir die oord.

POLOKWANE – Dit is die eerste jaar dat vroue van die Koraal Aftreeoord besluit het om met die aankoms van die koue wintermaande bedsokkies te maak vir die gemeenskap.

Dié sokkies beloof nie net om deel te wees van ‘n ekstra inkomste vir van die behoeftige mense in die aftreeoord nie, maar ook om die gemeenskap snoesig te hou gedurende die koue winteraande.

Een van die inwoners van die Koraal Aftreeoord, Bettie Nell, het aan Review vertel dat die projek baie beteken vir mense soos sy wat nie altyd by al die finansiële tekortkominge kan uitkom nie.

“‘n Ekstra geldjie vir ‘n brood of so beteken ongelooflik baie en maak ‘n groot verskil in die lewens van mense wat dit nie altyd het nie,” vertel sy.

Die kouse kan by die oord bestel word en daar is kouse vir beide mans en vrouens. Een paar beloop R40 en mense wat graag deel wil word van die projek en wol skenk, of kouse wil bestel, kan die aftreeoord by (015) 295 4385 kontak, of Elda by 081 039 0581 skakel.

‘n Jaarlikse basaar maak ook deel uit van die oord se jaarlikse geldinsamelingsprojekte.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version