Local NewsNews

Glenn ‘n steunpilaar en staatmaker

Glenn Groenewald is 'n betrokke pa vir sy drie dogters, 'n ondersteunende man vir sy vrou en 'n bedrewe sakeman

POLOKWANE – Kyk jy rond by enige skolenetbal-, hokkie- of tenniswedstryd sal jy waarskynlik vir Glenn Groenewald raakloop. Want waar sy dogters meeding, is hy daar om moed in te praat en te ondersteun.

Hy is ‘n selferkende betrokke pa vir sy drie dogters, Lumicke, Nelieq en ousus, Michlan en ‘n ondersteunende man vir sy vrou Monja, maar uit eie reg ook ‘n bedrewe sakeman wat vandag een van die direkteure, en ook algemene bestuurder is van Ricoh Limpopo.

Hy dien ook op Oosskool se beheerliggaam waar hy waardevolle insette lewer.

“Ek het aan Hoërskool Pietersburg gematrikuleer en eers vir ‘n tyd daarna in Witbank rugby gespeel. Daarna het ek by Televonic begin werk en in 2014 het ek by die familiesaak aangesluit. Ek het met verkope begin, en was eintlik ‘n smous.”

Hy vertel dat, alhoewel mense dikwels sê om besigheid met familie te doen nie ‘n goeie idee is nie, is dit een van die beter besluite wat hy in sy lewe geneem het.

“Ek het ongelooflik baie by my pa geleer en so ook by my broer. Ons het goeie dinge en slegte dinge saam beleef. Ons komplimenteer mekaar en ek glo ons het ‘n gesonde familiebesigheid.”

Om ‘n gesonde huwelik, goeie ouerskap en suksesvolle besigheid te bestuur, moet ‘n mens balans hê, meen hy. “Dit verg harde werk. Jy moet elke dag doen waarvoor jy lief is en dan jou beste gee. Ons leer ons kinders om aan een spansport en een individuele sport deel te neem. Sodoende leer hulle dissipline en uithouvermoë wat hulle hul lewe lank kan gebruik. Met elke sportsoort leer die kinders verskillende vaardighede. Ek en Monja gesels baie en ons het geleer om soms die mindere te wees. Sonder die personeel by my werk sou ek nie die voorreg gehad het om die man en pa te wees vir my familie wat ek kan wees nie. Hulle gun my aftyd en hulle is baie betroubaar.”

Moedersdag is om die draai en Glenn vertel dat hulle nie baie klem lê op geskenke nie, maar eerder op saamwees.

“Ons spandeer eerder tyd saam en hou veral vakansie by Hartenbos, die Wes-Kaap, of selfs in die bosveld. Ek is lief vir jag en my kinders smeek my dikwels om saam te gaan.”

Sy raad aan besigheidsmense, ouers en eggenote: “Skoenmaker, hou jou by jou lees. As jy iets aanpak moet jy dit deurvoer en nie net halfpad doen nie. Jou gesindheid maak of breek jou en jy moet altyd probeer positief wees. Doen dit wat jy geniet.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button