Local NewsNews

Weduwee oorweeg stappe

Vicky de Freitas, weduwee van Justin de Freitas, wil eers regshulp inwin voordat sy moontlike verdere stappe oorweeg om agter die kap van die byl te kom nadat Paul Carr, wat vir haar man se dood tereg gestaan het, onskuldig bevind is. Justin is in Julie 2015 met ‘n mes by die Soetdorings Buiteklub doodgesteek. …

Vicky de Freitas, weduwee van Justin de Freitas, wil eers regshulp inwin voordat sy moontlike verdere stappe oorweeg om agter die kap van die byl te kom nadat Paul Carr, wat vir haar man se dood tereg gestaan het, onskuldig bevind is.
Justin is in Julie 2015 met ‘n mes by die Soetdorings Buiteklub doodgesteek. Carr is kort na die voorval in hegtenis geneem en tydens sy tweede verskyning op
R1 500 borgtog vrygelaat.
Die Seshego Streekhof het Vrydag vir Carr vrygespreek. Streekhoflanddros, Stiaan Gericke het beslis dat die staat geen substansiële bewyse teen Carr het nie en het die enigste staatsgetuie as blatante leuenaar uitgemaak omdat sy verklaring nie met ander getuies ooreenstem nie en omdat daar veranderinge in ‘n ander handskrif op sy verklaring aangebring is.

Justin de Freitas is in Julie
2015 by Soetdo­rings Buite­klub met ‘n mes dood­gesteek. Saam met hom is sy weduwee, Vicky.

Gericke het na die galery gekyk en gesê dit is ‘n jammerte dat die getuie nie teenwoordig is nie. “Mens kan nie ‘n enkele woord in die verklaring glo, behalwe vir die datum waarop die voorval gebeur het nie,” het hy gesê.
Volgens Gericke was dit duidelik dat beide Carr en De Freitas dronk was tydens ‘n motorfietsbyeenkoms by Soetdorings toe daar ‘n argument tussen hulle ontstaan het wat hy as ‘n dronk vuisgeveg beskryf het. De Freitas het blykbaar oor ‘n motorfiets geval tydens die geveg waarna hy inmekaar gesak het. Niemand kon getuig dat Carr met ‘n mes of enige ander skerp voorwerp gesien is nie.
Die nadoodse ondersoek het wel bevind dat De Freitas dood is as gevolg van ‘n messteek in sy bors.
Gericke het gesê die staat het alle hulpmiddels tot hul beskikking gehad om ‘n deeglike ondersoek te doen, maar hulle het nie.
Vicky het telefonies uit Nelspruit haar misnoeë uitgespreek en beweer daar is sedert die begin van die saak met getuies en bewysstukke gepeuter. “Ek voel die polisie het ons en ook vir Justin in die steek gelaat. Dit is ontstellend om te dink dat die pap tussen die polisie en die staatsaanklaer op die grond geval het. Ek het telkens by die ondersoekbeampte en selfs hoërangpolisiebeamptes gepleit dat die saak deeglik ondersoek moet word, maar dit het herhaaldelik op dowe ore geval. Die polisie het nie hul werk deeglik gedoen nie,” het sy gesê.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button