Prediker gesels oor uitdagings van tegnologie

Die welbekende prediker van die Moreletapark N.G. Gemeente in Pretoria, motiveringspreker en outeur, Johan Smith het verlede Woensdag leerders, onderwysers en ouers van Hoërskool Piet Potgieter toegespreek.

MOKOPANE – Smith het daarop gewys dat ouerskap en om ‘n kind groot te maak in vandag se tyd ‘n groot uitdaging is.

Hy het oor die belang van waardes gepraat, die gevare van tegnologie en die gevolge wat dit kan hê op verhoudings.

“Tegnologie groei wêreldwyd teen ‘n geweldige tempo en kinders word elke dag aan ‘n magdom inligting blootgestel. Suid Afrika is een van die top vyf slimfoon verbruikers in die wêreld.

“Tegnologie is goed, maar het ook sy negatiewe kant en die ouers is onbewus wat hulle kinders van vriende af kry. Smith sê daar is meer as 4,2 miljoen pornografiese webadresse en meer as twee biljoen pornografiese materiaal wat daagliks die rondte doen.

Volgens Smith is die nommer een probleem in die wêreld die afwesigheid van grense. “Kinders word nie gebore met grense nie. Ouers moet dink aan hulle kinders se toekoms en perke stel omdat jy jou kind liefhet. Jy moet jou kind waardes leer soos eerlikheid, deernis, verantwoordelikheid, integriteit en respek. Jou kind se karakter is belangriker as sy punte.”

Smith het afgesluit met Hebreërs 11:7. Dit lui: Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereedgemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is. Smith sê so baie mense wat die stuk lees vergeet Noag het die ark gebou om sy familie te red.

Hy het gesê dit is tyd dat pa’s begin om God eerste te stel en hulle families te red.

Smith is ook die skepper van die aanlyn webwerf Vita Amp waar hy lewenslesse en raad gee vir ouers, skoolhoofde en die jeug. Hy nooi almal uit om aan te sluit op die webadres www.vitaamp.org.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version