Local NewsNews

Dominee Dopper lewe voluit

Op die ryp ouderdom van 75 is daar geen keer aan dominee Dopper Erasmus se lewenslus of sin vir humor nie.

POLOKWANE – Dopper Erasmus, oftewel Jacobus Cornelius, vertel Review waar hy sy bynaam ‘Dopper’ gekry het en gesels oor sy liefde vir sy gemeente en medemens.

“Ek het na skool ‘n B.A.-graad aan die Potchefstroom Universiteit studeer waarna ek teologie in Pretoria gaan studeer het. Hier het my medestudente van Pretoria besluit dat aangesien ek van Potchefstroom af kom, ek ‘n dopper moet wees en van daar af is ek bekend as Dopper Erasmus,” vertel hy met ‘n glimlag.

Hy is ‘n geliefde en bekende predikant in die stad en bedien uitsluitlik ouer lidmate die laaste paar jaar, onder wie hy besonder geliefd is.

“Op die ouderdom van 65 moes ek die tuig neerlê maar ek is die kans gegun om tot op die ouderdom van 75 nog te werk. Ek doen hospitaal- en huisbesoeke vir die ouer lidmate wie ek dien. Altesaam dien ek 82 lidmate van 75 jaar en ouer en preek nog gereeld op Sondae by die N.G. Kerk Noord,” vertel hy.

Bo en behalwe sy passie om die Woord van God oor te dra het Dopper ook ‘n slag met liedjies skryf. Een van sy meer bekende liedjies is Timothy wat deur Carike Keuzenkamp en Four Jacks and a Jill goue status bereik het.

“Ek het in ‘n melkfabriek gewerk waar ek elke dag pakkies poeiermelk moes afmeet. Ek het die liedjie aanvanklik as Dorothy geskryf en my vrou, Rita, wat destyds nog net ‘n vriendin was, was bevriend met Carike wie weer met die filmregisseur, Jamie Uys, bevriend was. Destyds was Jamie besig met die film Die Professor en die Prikkelpop en hy het spesiaal vir Carike ‘n rol geskep waarin sy dié liedjie kon sing,” verduidelik hy. Beide hy en Rita het liedjies geskryf wat in die kerk gesing word en Rita rig ook drie kore af en is by musiekbediening betrokke.

“Ek het geen musikale agtergrond nie, ons het nie eers ‘n radio in die huis gehad toe ek groot geword het nie. Ek het op ‘n kol ‘n mondfluitjie en kitaar gekry en myself daarop geleer speel maar ek wens ek het destyds musiekopleiding gehad,” sê hy.

Dopper verduidelik dat hy nie maklik kwaad raak nie maar eerder hartseer of teleurgesteld. Hy is ook altyd gereed met ‘n grap of twee en skroom nie om sy lidmate te laat lag nie.

Sy kollega, dominee Hannes Bezuidenhout, vertel dat Dopper ‘n mensemens is met sterk werksetiek en ‘n ope hart. “Ek het onlangs begin leer om rustiger te wees. Ek het steeds twee selgroepe en behalwe vir die hospitaal- en huisbesoeke, hanteer ek ook die seniors se funksies. Verder doen ek loswerkies en ek probeer om soveel moontlik besig te bly.”

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button