“Hy het so rustig gelyk waar hy gelê het, asof hy slaap”

Só het die hospitaal personeel aan Rita Gadney vertel hoe haar man sy laaste oomblike uitgeleef het.

POLOKWANE – Rita vertel dat haar man, William Gadney net verlede week by Pietersburg Laerskool in sy nuwe pos aangemeld het.

Só vertel sy vrou Rita, terwyl die gesin steeds sy dood na ‘n dubbele hartaanval, verwerk.

“Hy was so bitterlik opgewonde omdat hy weer die geleentheid gegun is om ‘n onderwyser te wees. Die afgelope jaar se gebeure het hom geruk. Geestelik en emosioneel.”

Sy vertel van die gebeure wat sy dood voorafgegaan het.

“Hy het reeds van die vorige Donderdag af gesukkel om asem te haal. Na toetse die Sondag op hom gedoen is, is ons huistoe. Al die uitslae was normaal. Die Dinsdagoggend is ek in kennis gestel dat hy in die hospitaal opgeneem is, waar hy suurstof ontvang het. Hy is teen middagete in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Vanaf 17:30 het dit al slegter met hom gegaan.”

Rita het vroeër die dag van die hospitaal af terug huistoe gegaan, sodat William kon rus.

“Ek en die kinders was die aand op pad hospitaal toe, toe ek ‘n oproep kry dat ons moet kom afskeid neem.”

Teen die tyd van hul aankoms was dit reeds te laat.

“Toe ek instap sit ‘n suster haar arms om my en sê ek moet net asemhaal. Toe weet ek ons is te laat. Ek was histeries.”

Volgens dokters het William twee hartaanvalle kort na mekaar gehad, “maar hy het so rustig gelyk waar hy gelê het, asof hy slaap”.

Dié gewilde Oosskooljuffrou en hul kinders, Wilrico, Marné en Boeta (William) het ‘n rustigheid oor die afgelope week se gebeure, al maak dit seer.

Marné se troue aan Derick de Lange het Saterdag voortgegaan, “want William sou dit so wou hê”.

“Dit was ‘n vreugdevolle dag. Een met ‘n traan in die oog. Boeta en Wilrico het saam met haar in die kerk ingestap. Ek weet William het vrede in sy hart gehad oor die troue. Op die begrafnisbrief het Derick se boodskap begin met ‘Oom William’ en geeïndig met ‘Ek is lief vir Pa.'”

Die Gadney-kinders onthou hul pa nadenkend.

“My Pa is my superhero. Hy was en is altyd my held,” sê Wilrico. “Hy was iemand wat ander altyd bo homself sou plaas. Hy was die nederigste man wat ek geken het. Hy kon enigiemand se dag maak met ‘n grappie. Hy kon mense inspireer om net hul beste te gee.”

Marné onthou die band tussen pa en dogter: “Ek was altyd sy hart se punt. My pappa. My held. Hy het ‘n passie gehad vir kinders en rugby en het soveel lewens aangeraak. Altyd die beste in almal raak gesien, altyd reg met ‘n grappie of ‘n drukkie om ‘n mens se dag beter te maak. Skoolgee en rugby-afrig was sy passies. Ek gaan verlang na sy vinnige oproepe en onverwagse SMSe. Ek is dankbaar vir die goeie verhouding wat ek en hy gehad het. My hart is stukkend maar ek weet hy is op ‘n beter plek en dat hy nou met ‘n glimlag op ons neerkyk met ‘n tevrede hart”.

Boeta onthou William as ‘n “‘n sagte reus met min woorde en baie vaardighede”.

“Hy was nie net my pa nie maar ook my held. Hy het elke dag voluit geleef met die grootste glimlag op sy gesig en glinster in sy oog. Ek voel so bevoorreg om my pa te kon deel met al die kinders wie se lewens hy beïnvloed het.

“Pappa was ‘n nederige mens wat die lekkerste drukkies gegee het, en as jy ‘n slegte dag gehad het, sou hy altyd ‘n manier gekry het om dit beter te maak. Ek sal dit vir ewig koester. Pappa was die beste.”

Rita onthou ‘n beginselvaste man wat ondanks die wolk waaronder hy onlangs moes stap, in geloof geanker gebly het.

“Nadat hy by Oosskool weg is na 11 jaar, het hy elke oggend vir my gesê, ‘Mamma, ek bid vir jou’. Hy het nooit oordeel of haat in sy hart gedra nie. Hy was lief vir kinders, nie net sy eie nie maar elke kind wat sy pad gekruis het.

Sy vertel dat hulle slegs ‘n dag uitmekaar verjaar.

“Hy sou hierdie jaar op Moedersdag verjaar het. Ons was 30 jaar getroud. In daardie 30 jaar het ons baie sakke sout saam opgeëet. Ek het nooit in my man getwyfel nie. Ons as familie was baie na aan mekaar.”

• William Gadney se gedenkdiens is Maandag gehou. Die familie beplan om sy as op vriende se plaas te gaan strooi.

“Dit is wat hy sou wou gehad het.”

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version