Local NewsNews

Verkeervolumes hoër, sterftes minder oor Paastyd

‘n Hoë sterftesyfer kenmerk jaarliks Limpopo se paaie oor die Paastyd en vanjaar was geen uitsondering nie, maar die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid blyk tevrede te wees omdat statistiek toon dat twee minder sterfgevalle vanjaar aangemeld is. In ‘n persverklaring van die departementele woordvoerder, Joshua Kwapa het 34 mense op Limpopopaaie omgekom. Wanneer konstruksie …

‘n Hoë sterftesyfer kenmerk jaarliks Limpopo se paaie oor die Paastyd en vanjaar was geen uitsondering nie, maar die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid blyk tevrede te wees omdat statistiek toon dat twee minder sterfgevalle vanjaar aangemeld is.
In ‘n persverklaring van die departementele woordvoerder, Joshua Kwapa het 34 mense op Limpopopaaie omgekom.
Wanneer konstruksie aan paaie sowel as die nasionale busstaking wat net voor Paasnaweek begin het en groter verkeervo­lumes veroorsaak het, in ag geneem word, kan die provinsie tevrede wees met die daling in padsterftes. Nooddienswerkers en insleep­dienspersoneel reken ook dat dit ‘n baie rustiger naweek as vorige jare was.
Statistiek
Meer voertuie is op die provinsie se paaie ervaar omdat drie tot vier taxi’s weens die staking gebruik moes word om een bus se passasiers te vervoer. Die toename in ongelukke, 104 teenoor verlede jaar se 96, kan moontlik as gevolg van dié volumetoename wees. Van die 34 sterftes was 14 voetgangers, tien passasiers en tien voertuigbestuurders, maar Kwapa sê 18 voetgangers is gedurende die naweek dood en dat die departement daarop sal fokus om veldtogte te loods om voetgangers oor padveiligheid te onderrig.
Wetstoepassing
‘n Totaal van 24 063 voertuie is gedurende naweek gestop waarvan 38 geskrap en 14 geskut is. Twee en dertig bestuurders is vir dronkbestuur aangekeer. Vervoer LUR Nandi Ndalane het haar kommer oor dronkbestuurders uitgespreek en gesê dit is ‘n opsetlike oortreding en skuldiges moet aan die pen ry.
Sigbaarheid van beamptes, ander maatreëls
Sigbaarheid van verkeersbeamptes was een van die grootste bydraende faktore wat tot gladde verkeersvloei gelei het.
Kwapa het voor die Paasnaweek gesê dat hoë volumes verkeer op nasionale paaie en veral op die R71 na Moria verwag word, maar dat beamptes gereed is om motoriste se veiligheid te verseker.
Beamptes is ongeveer elke 40 km op nasionale paaie en elke 10 km op roetes soos die R71 gestasioneer, volgens Kwapa. Bestuurders en voertuie by toetsstasies is getoets en tien hoëspoed departementele voertuie is op nasionale paaie ontplooi wat op oortredings soos spoed en roekelose en nalatige bestuur gefokus het.
Busmaatskappye is vooraf gevra om toe te sien dat busse nie deur Polokwane ry nie en is deur die departement aangeraai om ten alle tye met hoofligte te ry, by die spoedbeperking van 80 km/h te hou en nie van die R101 tussen Mokopane en Mookgophong gebruik te maak nie.
Ongelukke en oorsake
Kwapa sê die algemene oorsake van ongelukke die naweek is moegheid, roekeloos en nalatige bestuur, voetgangers wat onveilig paaie oorsteek en bestuurders wat onveilig ander voertuie verbysteek.
Alhoewel 104 ongelukke gerapporteer is, is dit nie duidelik hoeveel noodlottig was nie. Polokwane Observer is bewus van een nood­lottige ongeluk Vrydagoggend tussen Marble Hall en Groblersdal toe die bestuurder van ‘n Hyundai teen ‘n boom gebots het en die voertuig aan die brand geslaan het. Die insittendes is verkool, maar provinsiale polisiewoodvoerder, Moatshe Ngoepe, kon nie sê hoeveel mense omgekom het nie.
Algemeen en verkeersvolumes
Donderdag teen 14:00 het ongeveer 1 477 voertuie per uur noord deur die Kranskop Plaza gevloei. Laatmiddag het ‘n botsing net voor die Zebediela Plaza vertragings op die R101 veroorsaak.
Vrydag is daar omstreeks 12:30 vyf ongelukke na swaar reën op Ysterberg aangemeld.
Maandag om 09:50 is ongeveer 1 286 voertuie per uur op die R71 vanaf Moria getel en dié getal het stelselmatig vermeerder tot
2 675 voertuie per uur wat vanuit ‘n noordelike rigting deur die Carousel Plaza beweeg het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Dit is nie duidelik hoeveel mense in die voertuig verkool het na ‘n ongeluk Vrydagaand op die R33 tussen Marble Hall en Groblersdal nie.

Related Articles

Back to top button