Agri Limpopo bly konstruktief betrokke by hervorming

Agri Limpopo glo in diepgaande debat, beginselvaste dialoog en streef deurgaans na ’n uitkoms sodat landbouers beter daaraan toe is as ’n toeskouerhouding. So sê Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo se Landbou-ontwikkelingskomitee in ’n persverklaring. “Daar gaan stemme in landbougeledere op wat in die huidige omstandighede van verset en oproerigheid, ‘n saak wil …

Agri Limpopo glo in diepgaande debat, beginselvaste dialoog en streef deurgaans na ’n uitkoms sodat landbouers beter daaraan toe is as ’n toeskouerhouding.
So sê Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo se Landbou-ontwikkelingskomitee in ’n persverklaring. “Daar gaan stemme in landbougeledere op wat in die huidige omstandighede van verset en oproerigheid, ‘n saak wil uitmaak dat boere nie met die regering behoort saam te werk aan landbouhervorming alvorens dit op ons afgedwing word nie. Agri Limpopo glo dat samewerking in sake wat almal se belang dien die deur oophou vir gesprek oor beleidskwessies wat nie in landbou se beste belang is nie.”
Leon Borcherds, president van Agri Limpopo stem saam met De Jager. “Onsekerheid oor die ekonomie asook regeringsbeleid was waarskynlik nog nooit voorheen gelyktydig op so ‘n laagtepunt soos tans nie. Die gemoedere van gewone landsburgers is opgewerk tot op die punt waar politieke verskille geïgnoreer word en saam in die strate gedemonstreer word.”
“Die frustrasie met korrupsie en algemene onbeholpenheid in die hantering van landssake, laat al meer mense regverdiging vind dat die regering en al sy instellings asook sy wette geïgnoreer behoort te word,” voeg Borcherds by.
“Die stem van redelikheid is nou meer as ooit nodig in elke debat oor landboukwes­sies. Diepliggende benaderingsverskille tussen beleidmakers en landbouers roep die landbousektor om verantwoordelik insette te lewer ongeag of die insette altyd die verlangde resultate lewer. Versetlandbou is ’n opsie wat nog nêrens in Afrika die gewenste resultate vir landbouers gelewer het nie,” meen Borcherds.
Willem van Jaarsveld, hoof-uitvoerende beampte, sê dat Agri Limpopo ’n benadering van konstruktiewe betrokkenheid volg.
“Daar is geen plek vir slaafse navolging omdat dit die polities korrekte ding is om te doen nie.
“Agri Limpopo glo in diepgaande debat, beginselvaste dialoog en streef deurgaans daarna dat landbouers beter daaraan toe is as wat ’n toeskouerhouding sou meebring.”

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Exit mobile version