Local NewsNews

Pa herstel na gru-ongeluk buite Mokopane

Marnus Pretorius is ernstig beseer tydens 'n gru-ongeluk Saterdagmiddag.

LIMPOPO – Vir Carel Bronkhorst sal die pad na die Anglo Platinum Mogalakwena-myn nooit weer dieselfde wees nie. Saterdagmiddag net voor 13:00 het ‘n gru-ongeluk voor hom gebeur waarin ‘n kollega, Marnus Pretorius, ernstig beseer is.

Bronkhorst vertel aan Bosveld: “Ek en my voorman, Phineas Thembo, was op pad werk toe vir middagskof. Die volgende oomblik het ons gesien hoe stukke van ‘n motorfiets in die lug opskiet. Dit was Pretorius (28) se geel motorfiets wat teen ‘n Toyota dubbelkajuitbakkie gebots het”.

Marnus se motorfiets lê in stukke na die ongeluk.

Bronkhorst het hom dadelik na Pretorius gehaas wat opgekrul in pyn op die teerpad gelê het. “Hy het gekla van buikpyn. Ek het hom probeer kalmeer en sy valhelm verwyder, asook sy baadjie en skoene. Pretorius het herhaaldelik gevra dat ek sy vrou, Arista, bel.”

Thembo het intussen die ambulansdiens gekontak en Special Operations Solutions se reaksieoffisiere was eerste op die toneel en het Pretorius probeer stabiliseer. Netcare 911 het daarna opgedaag.

Pretorius se skoonma, Almarie Spies, sê sy het ‘n oproep van Bronkhorst gekry oor die ongeluk en dat hy nie vir Arista kan opspoor nie. Almarie het Arista en die egpaar se seun, MJ (4), gaan oplaai en hulle na die ongelukstoneel gehaas.

Almarie vertel dat dit ‘n vreeslike skok vir hulle was toe hulle die motorfiets sien en MJ wou weet of sy pa dood is. Die mediese personeel wou eers nie Arista toelaat om Pretorius te sien nie totdat hy gestabiliseer is.

Netcare 911 het Pretorius na die Anglo Mediese Kliniek geneem en vandaar is hy later na die Limpopo Mediclinic in Polokwane oorgeplaas. “As mens kyk na die motorfiets kan ek nie glo Marnus het geen beenbreuke of skedelbeserings opgedoen het nie.” Marnus se milt, lewer, maag, dikderm en dunderm het met die impak gebars. Hy is net voor 22:00 in die teater ingestoot waar hulle al sy ingewande skoongemaak en geheg het.

“Hy was nog tot Maandag op asemhalingsmasjiene, maar nou is hy net op suurstof.”

Spies sê Pretorius is by sy positiewe en stabiel, alhoewel hy op baie sterk antibiotika en pynmedikasie is. Pretorius se vrou, Arista, het Dinsdag aan Bosveld vertel dat hy nog baie pyn het en die herstelproses nog baie lank kan neem.

“Hy is op binneaarsevoeding en dit sal maande neem voordat hy weer vastekos sal kan inneem. Ons is dankbaar vir ons hemelse Vader wat Sy hand oor Marnus hou in die tydperk en vir dit wat nog voorlê.”

Die gesin bedank Bronkhorst wat Pretorius die hele tyd bygestaan het, asook al die vriende familie en die motorfietsklubs vir al hulle boodskappe, gebede en bystand.

Hulle sê ook dankie aan die nooddienste en die mediese personeel by Anglo Kliniek en Limpopo Mediclinic, asook aan Anglo Platinum vir hulle bystand en ruiker.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button