Bosveld NewsLocal NewsNews

Marcelle help graag in nood

Haar werk as leier van die party in Limpopo beteken dat sy deesdae baie moet reis.

MOKOPANE – “Vandag kan ek teruggee wat ek ontvang het. My reis het my ‘streetwise’ en sterk gemaak en ek is trots op wie ek is.”

Marcelle Maritz, Leier van die Vryheidsfront Plus in Limpopo, gesels openhartig met Bosveld oor haar verlede, haar hede en haar toekomsplanne.

Om haar passie vir mens en dier te verstaan deel sy haar swaar jare, terwyl die trane in haar helder blou oë opdam. “Ek kom uit ‘n huwelik waar ek mishandel is en na my egskeiding het dit broekskeur gegaan. Ek onthou hoe ek soms honger gaan slaap het. Daar was baie keer ook nie ‘n dak nie. Die letsels sal altyd daar wees, maar dit waardeur ek is, maak dat ek ander in nood kan help.”

Dit was die eienaar van Suricat, Div de Villiers, wat haar so 15 jaar gelede ‘n kans gegee het om weer haar kop te lig en die lewe opnuut aan te pak.

“Ek het invorderings vir hom gedoen en na ‘n paar jaar is ek aangestel as die balju op die dorp. Dit was soms bitter moeilik om aardse besittings by mense te gaan oplaai waar dit duidelik was dat dit swaar gaan. Ek het mos self dié pad geloop.”

Maritz is in 2010 deur die DA en Cope genader. Dit was die begin van haar politieke loopbaan.

“Na sowat vier jaar as DA wyksraadslid het ek besef ek hoort by die Vryheidsfront Plus want ek is ‘n trotse Afrikaner. Die VF Plus se waardes is reg en die party dra die belange van die Afrikaner op die hart. Ek glo soos die VF Plus elkeen van ons het ‘n reg en ‘n plek in ons land. Apartheid was glad nie so sleg as wat vandag voorgegee word nie. Vandag seëvier korrupsie en omgekeerde Apartheid. Ek maak veral my stem dik wanneer dit kom by plaasmoorde.”

Met haar loopbaan by die regte party op dreef sal sy graag vorentoe haar plek in die Parlement wil inneem, hoewel Potties haar tuiste is. “Ek is hier gebore en getoë. Ons moet hande vat en sorg dat die dorp weer die pragtige plek word soos dit eens was. Die munisipaliteit moet in orde gebring word.”

Sy beplan om binnekort soveel moontlik dorpe in Limpopo te besoek. Haar boodskap aan die gemeenskap is: “Met God in ons lewe, wie kan teen ons wees”.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button