Local NewsNews

Ds Marian sluit aan by NG Noord

Hierdie is haar eerste gemeente en opgewonde vertel sy van haar reis tot waar sy vandag is.

POLOKWANE – Met ‘n innerlike kalmte en vrede wat uitstraal sit Marian Jordaan (24) in die bidkamer by N.G. Kerk Pietersburg-Noord waar sy onlangs haar intreepreek gelewer het.

“Ek het in Lephalale grootgeword en het na skool in Pretoria gaan studeer. Ek het aanvanklik oorweeg om B.Com of joernalistiek te studeer en nadat ek ‘n praatjie by die B.Com departement bygewoon het was ek oppad na die kommunikasie- departement. Ek het verby die teologie departement geloop en hier het ek vriende wat ek deur my lewe by kerkkampe gemaak het gesien. Hulle het my voorgekeer en ons het gesels en ek het ‘n algehele rustigheid in my ervaar. Hier het ek besef dat ek, soos my pa, ‘n predikant wil word. Alhoewel daar tye was wat ek oor my besluit getwyfel het, het God my op hierdie pad gelei,” vertel sy.

“Mense se lewenservarings vorm deel van my preekstyl. Soms staan ek op die kansel met ‘n voorbereide preek, maar dan praat God met my oor iets anders wat my ‘n algehele nuwe preek gee,” sê sy.

Marian verduidelik dat sy baie empatie met ander het en dat, in haar ervaring, vroue dikwels meer emosioneel as mans is.

Hierdie aspek, verduidelik sy, maak dit soms moeilik vir haar om nie emosioneel oor alles te dink nie.

Bo en behalwe vir haar intreepreek op 12 Februarie het sy ook reeds in die gesinsdiens gepreek en ‘n jeugdiens gelei. Oggenddiens is vir haar spesiaal omdat dit, verduidelik sy, ‘n besondere gewydheid bevat. “Dit is soos om die Gees in ‘n konserwatiewe milieu te voel,” sê sy.

Voor elke preek bid sy dat haar boodskap elkeen sal raak soos hulle dit nodig het. Sy geniet dit om met tieners te gesels asook om haar gemeente op ‘n sosiale vlak beter te leer ken.

In haar vrye tyd kuier sy graag by vriende, spandeer tyd in die natuur en oefen graag.

Daarby skryf sy gedigte, sing en speel klavier.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button