Veiligheid van plase geniet tans parlement se aandag

"Agri SA verwelkom debatte oor plaasveiligheid, mits dit konstruktief sal bydra tot die oplossing van plaasgeweld"

“Die gesprekke het weereens die fokus geplaas op die kwesbaarheid van die landbougemeenskap en die mate van geweld waaraan hulle blootgestel word. Agri SA verwerp egter met minagting sekere parlementariërs se uitsprake, soos in die media gerapporteer, dat boere lewendig begrawe moet word. Hierdie uitsprake dra geensins by tot nasiebou, maar lei tot polarisasie van gemeenskappe”, sê Kobus Breytenbach, voorsitter van Agri SA se Landelike Veiligheidskomitee.

Volgens Breytenbach, is dit nou belangrik dat die parlement binne sy parlementêre stelsel aandag sal gee aan die skep van ‘n klimaat van verdraagsaamheid en die skep van ‘n begrip by die breër publiek, dat almal wat by die primêre landbou betrokke is, as ‘n bate vir die land beskou moet word. Deur die boerderygemeenskap te beskerm, sal stabiele voedselvoorsiening aan die bevolking verseker word, wat verder noodsaaklik is vir stabiliteit in die land.

Die polisie moet deur die parlement ondersteun word met die toeken van voldoende hulpbronne aan plattelandse polisiestasies om hulle in staat te stel om die Landelike Beveiligingstrategie en Reservistestelsel volledig uit te rol. Hierdie strategieë is omvangryk en kan ‘n daadwerklike bydrae maak om die boerderygemeenskap se bestaande beveiligingsmaatreëls aan te vul en landelike gebiede veiliger te maak. Dit is verder belangrik dat die polisie op stasievlak die goed ontwikkelde beleid en prosedure effektief implementeer, waardeur sigbare polisiëring verhoog en die landelike gebied gestabiliseer kan word.

Daar moet daarop gelet word dat die regering hom reeds verbind het tot die prioritisering van die veiligheid van die landelike gebied, waarby ingesluit is die boerderygemeenskap. Die erns van die voortdurende misdaadaanslag in vele vorme op die landelike gemeenskap, asook die hoë voorkoms van veediefstal, het tot gevolg gehad dat die Landelike Beveiligingstrategie geïmplementeer is as meganisme om landelike misdaad te verminder.

Die parlement het in sy debatte ook verwys na die afgesonderheid waarin die boeregemeenskap woon en werk en dat hulle vêr verwyder is van dienssentrums soos die polisiestasie en dat dit een van die redes is hoekom dié gemeenskap so kwesbaar is teen aanvalle. Hierdie situasie kan oorkom word indien verdere hulpbronne aan die polisie beskikbaar gemaak word om die Landelike Beveiligingstrategie te implementeer.

Exit mobile version