Jordaan-saak permanent van hofrol verwyder

Die saak van onder meer ontvoering en regsverydeling teen Berdine Jordaan en Leon du Preez is Maandag in die Polokwa­ne landdroshof van die hofrol geskrap. Limpopo Valke se woordvoer­der, Matimba Maluleke het gesê die saak is voorlopig teruggetrek, maar Jordaan en Du Preez se regsverteenwoordiger, Franco Marx het dit as onwaar afgemaak en gesê die …

Die saak van onder meer ontvoering en regsverydeling teen Berdine Jordaan en Leon du Preez is Maandag in die Polokwa­ne landdroshof van die hofrol geskrap.
Limpopo Valke se woordvoer­der, Matimba Maluleke het gesê die saak is voorlopig teruggetrek, maar Jordaan en Du Preez se regsverteenwoordiger, Franco Marx het dit as onwaar afgemaak en gesê die saak is permanent van die rol verwyder.
“Die saak is in die verlede verskeie kere uitgestel. Ongeveer vier verskynings gelede het die streekhof die saak na die openbare vervolger terugverwys en vir ongeveer ‘n maand uitgestel, hangende die besluit of vervolging moet voortgaan. Tydens die volgende versky­ning was die openbare vervolger se besluit nie beskikbaar nie en ek het die hof vir finale uitstel gevra,” sê Marx.
In Januarie het die openbare vervolger besluit dat vervolging in die streekhof moet voortgaan, waarna die saak tot Maandag uitgestel is om ‘n datum te bepaal.
“Maandag het die staat weer vir uitstel gevra sodat die saak na die hooggeregshof verwys kan word, maar ek het beswaar gemaak omdat daar geen verwysing in die openbare vervolger se besluit oor die hooggeregshof is nie en omdat dit bloot ‘n vertra­gingstegniek van die staat was. Ek het ‘n formele aansoek in terme van artikel 342A voor die hof ingedien en die landdros, Janine Ungerer, het saamgestem dat die staat se huis nie in orde is nie. Sy het die saak van die rol geskrap,” sê Marx en voeg by dat Jordaan en Du Preez se borgvoorwaardes ook opgehef is.
Artikel 342A(3)(c) lui dat wanneer ‘n beskuldigde nog nie gepleit het nie en die hof bevind dat die saak onnodig sloer, die saak van die rol geskrap moet word en vervolging nie voortgesit word sonder skriftelike instruksies van die openbare vervolger nie.
Limpopo Valke se woordvoerder, Matimba Maluleke het kort na die sogenaamde ontvoering gesê dat Du Preez aan die einde van Augustus verlede jaar, enkele dae na die inhegtenisneming van Jordaan, op aanklagte van ontvoering en regsverydeling gearresteer is.
Jordaan het op haar beurt tereg gestaan op aanklagte van regsverydeling, ontvoering en dwarsboming van die gereg. Beide is op R2 000 borgtog vrygelaat.
Aanvanklik het die polisie en gemeenskap gedink dat sy saam met haar vyfjarige dogter en 14-jarige susterskind in die stad ontvoer is, maar al drie is later ongedeerd in Musina gevind.
“Sy het blykbaar oor die ontvoering gejok en was na bewe­ring self vir die 14-jarige meisie se verdwyning verantwoordelik,” het Maluleke gesê.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version