Bosveld NewsLocal sportNewsSport

Rugbykoors seëvier

Die grootste skolerugbyweek in die wêreld, die immergewilde Hansieweek sal op Dinsdag, 4 April by Hoërskool Hans Strijdom, Mookgophong afskop.

MOKOPANE – Rugbyliefhebbers kan hulle tande slyp vir ‘n skouspel soos min wanneer die grootste skolerugbyweek in die wêreld, die immergewilde Hansieweek, aanstaande Dinsdag, 4 April by Hoërskool Hans Strijdom op Mookgophong afskop.

Die skool en gemeenskap is gereed om die 80 rugbyspanne en al hulle ondersteuners welkom te heet vir die 25ste Mauritz Hansen rugbyweek, sê Rudolf de Vos, organiseerder van die Hansieweek.

Een van die hoogtepunte is die onthulling van ‘n standbeeld van die bekende oud-Springbok en rugbylegende, Naas Botha, tydens die opening. Die standbeeld is deur die Herman Brouwer Trust aan die skool geskenk.

Tydens die opening sal meer as 30 skole van reg oor die land se top spelers met hul skoolvlae op die veld wees.

Oud-rugbyspelers wat self diep spore vir die Hansies op die rugbyveld getrap het, word ook verwag. Mauritz Hansen, skoolhoof van die Hansies van 1986 tot 1999, het self as kaptein vir dié skool se eerstespan in 1965 uitgedraf.

Die Hansieweek se knap bestuurspan is voor: Sampie Bezuidenhout, George Klopper (Skoolhoof), Robert Gower, Mauritz Hansen na wie die week vernoem is en Johan Bierman. Middel: Hennelie Pienaar, Jacquline Labushagne, Mercia de Vos, Rene Pallas, Mariëtte Visser, Anneleen Swanepoel, Tommy York en Hennie Bergh Agter: Rudolf de Vos, Phillip van der Schyff, Dirk Oosthuizen, Bennie Genis en Francois Nolte.

Die opening begin om 18:30 en om 19:30 pak die Hansies se gedugte eerstespan Hoërskool Hentie Cilliers van Virginia in die openingswedstryd. Deelnemende skole sluit onder meer in Hugenote van Springs, Oos Moot, Wonderboom en John Vorster van Pretoria, Midstream College van Centurion, Dr EG Jansen van Benoni en Hoërskool Wolmaranstad. Hoërskool Ben Vorster van Tzaneen, Frikkie Meyer van Thabazimbi, en Ellisras van Lephalale is skole van die omgewing wat gaan deelneem.

Die twee top spanne van die toernooi sal mekaar op 8 April aanvat om te kyk wie vanjaar die gesogte wentrofee gaan lig. Verlede jaar was Hoërskool Oos Moot vir die derde jaar die wenner.

De Vos sê 11 vakansie-oorde word saam met die Hansies se koshuise ingespan om al die besoekers te huisves.

Die Hansieweek dien as ‘n goeie inspuiting vir dié klein dorpie se ekonomie en die eienaars van besighede is opgewonde oor die toestroming van voete.

‘n Borgefunksie is op 14 Maart in die skool se lapa gehou om dankie te sê vir die talle ondernemings en individue wat bydra om die Hansieweek te ondersteun.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button