Local NewsNews

Dieredok met ‘n groot lief vir diere

Nelene sê dat sy 'n baie lonende werk het, maar dat dit tog soms nie lekker is as daar diere is wat jy nie kan help nie.

POLOKWANE – Dertig jaar gelede was dit nie so maklik vir ‘n vrou om keuring te kry om veeartsenykunde te studeer nie; tog het Nelene Sloet haar hart daarop gesit om met diere te werk en pluk sy vandag die vrugte.

“Ons was net 15 jong vroue wat keuring tot die kursus gekry het by Onderstepoort. Dit was ‘n moeilike kursus en ek moes hard werk en ek het min geslaap. Ek is nog nie een dag spyt oor my keuse om in hierdie rigting te studeer nie,” vertel sy terwyl sy in haar spreekkamer vir haar volgende pasiënt wag.

Nelene het op 1 Oktober by Wolkberg Dierekliniek aangesluit nadat sy en haar man vanaf Bronkhorstspruit verhuis het. Sy vertel dat sy altyd van die area gehou het en dat sy familie in Polokwane het.

“Ek het eers met plaasdiere soos beeste en perde gewerk en het ‘n groot liefde vir perde. Later van tyd het die boere hulle katte en honde ook na my toe gebring.”

Sy sê dat sy ‘n baie lonende werk het, maar dat dit tog soms nie lekker is as daar diere is wat jy nie kan help nie.

“Die moeilikste is om met eksotiese diere te werk. Dit is glad nie moeilik om ‘n dier wat ly en siek is, uit te sit nie. Wat wel sleg is, is wanneer jy ‘n jong, gesonde, lewenslustige dier aan die slaap moet sit. Perde wat hulle bene breek kan nie altyd behandel word nie, en honde wat diafragmaprobleme het nadat ‘n kar hulle raakgery het, en hulle dan geopereer moet word, is ook moeilik, aangesien hulle nie vir hulself asem kan haal nie.”

Verder vertel sy dat veeartse dokters is wat na elke aspek van die dier moet kyk, hetsy dit tande, bene, vel of oë is. Soms het hulle pasiënte wat moeiliker is, maar sy verduidelik dat deur rustig en kalm te bly, baie help. Nelene vertel dat hulle self honde, katte en papegaaie het.

Nelene is lief daarvoor om in haar spaar tyd te hekel en borduurwerk te doen.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Back to top button