Wapenvoorval: Boer praat uit

Die boer in die betrokke video, Willem Schoeman (30) het navore gekom en aan Bosveld 'n eksklusiewe onderhoud toegestaan.

MOKOPANE – ‘n Video op sosiale media waarin ‘n polisieman na bewering ‘n vuurwapen op ‘n boer van Roedtan rig wat ‘n klag van diefstal wou lê, het talle mense aan die praat.

Schoeman beweer hy het op 10 Maart Kapt. Piet Maswanganye, Kommisaris van Roedtan Polisiekantoor, gebel oor ‘n diefstalsaak, Kapt. Maswanganye het aan hom genoem hy moet die volgende dag inkom en die saak aanmeld wat hy toe gedoen het.

Volgens Schoeman is hy, sy ma, Ronel Cloete (53) en sy agtjarige seun saam na die polisiekantoor. Schoeman sê die voorval op die video het gebeur voodat hy die saak kon aanmeld.

“Adj. Offisier Godfrey Matlala het in siviele drag by ‘n tafel in die aanklagkantoor gesit. Ek en my ma het hom gegroet en aan hom genoem dat ek ‘n diefstalklag wil aanmeld. Matlala het geen reaksie getoon en ons geïgnoreer.” Schoeman sê hy het mooi gevra of Matlala hulle nie kan help om die diefstal saak oop te maak nie, maar Matlala het geen poging aangewend om te help nie.

Schoeman het sy ma aangeraai om ‘n foto te neem sodat ek dit vir Brig. Steyn wat die Area Bevelvoerder is kan stuur. “Matlala het toe ‘n boek voor sy gesig gehou. Ek het om die toonbank beweeg om die boek weg te neem. Matlala het opgestaan en na die agterkant van die aanklagskantoor beweeg en die kluis oopgemaak en ‘n R5 vuurwapen uit gehaal, die magasyn ingesit en oorgelaai voordat hy die wapen op my gerig het.”

“Hier het dinge baie vinnig verander en in ‘n plofbare en lewensgevaarlike situasie verander. Ek het vir my ma gesê: ‘hy het ‘n vuurwapen en wil my skiet’.” Daarna het die stoeigeveg plaasgevind.”

Schoeman sê hy het vir sy familie en sy lewe gevrees en moes vinnig ‘n besluit neem om sy familie se veiligheid te verseker. Volgens Schoeman het hy probeer om die vuurwapen by Matala af te neem. Op die video kan gesien word waar Schoeman en Matlala op die vloer stoei en die R5 eenkant lê en Schoeman herhaaldelik vir Matlala skree: “Jy wil my skiet”. ‘n Ooggetuie, Frans, was ook op daardie stadium in die polisiekantoor. Frans het tussen beide probeer tree en vir Schoeman gesê “Basie los hom jy maak ander saak,” waarop Schoeman antwoord: “hoekom haal hy ‘n vuurwapen uit die kluis, hy wil my skiet”.

Schoeman sê vir sy ma: “Sit dit op die boerevereniging,” waarna Schoeman vir Frans skreeu: “Vat die vuurwapen, maak hom veilig”. Op die video kan gesien word hoe Frans die vuurwapen optel en aan Schoeman se ma oorhandig. Schoeman beweer in die stadium het Matlala weer in die kluis gegaan en hy het gevrees dat Matala nog ‘n vuurwapen gaan haal.

Frans het voor Matlala gaan staan en aan Schoeman gesê “Basie jy gaan hom doodmaak”.Schoeman vra dan vir sy seun om op die radio vir hulp te gaan roep. Schoeman sê die polisie beweer hy wou Matlala met ‘n mes en vuurwapen aanval maar dit is nie waar nie. Schoeman is aangekla vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, hy het onskuldig gepleit en R5 000 borgtog is toegestaan, hy moet weer op 3 April in die hof verskyn. Schoeman sê sedert die voorval leef hy en sy familie in vrees omdat hy dreigemente van politieke partye kry en hulle ontydig sy plaas betree sonder waarskuwing of toestemming.

Provinsiale Polisiewoordvoerder, lt. kol. Moatshe Ngoepe, het bevestig die saak word intern ondersoek en daarom kan hy nie verder kommentaar lewer nie.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version