Dr. Mel maak reg vir groot gebeurtenisse

Geliefde pastoor in die stad beplan om dié jaar 'n konferensie te lei en 'n boek bekend te stel

POLOKWANE – Divine Life Ministries se Melané de Villiers is ‘n vrou, ma, ouma en doktorale pastoor wie haar gemeentelede gereeld moed in praat met haar inspirerende motiveringspraatjies.

“Ek kom uit ‘n Christelike familie. My pa en oom was ook in die bediening. Op 12-jarige ouderdom het ek my hart vir Jesus gegee, ek het reeds op skool gereeld daarvan gedroom om voor mense te staan en te preek,” vertel sy.

Dr. Mel, soos almal haar noem, vertel dat sy eers teologie begin studeer het nadat sy die liefde van haar lewe, Nico ontmoet het.

Hy is haar grootste steunpilaar, leermeester en motiveerder.

“Ek is besig om ‘n boek te skryf getiteld I am the way, the Truth and the Light. Dit is al ‘n geruime tyd ‘n begeerte van my om ‘n boek te skryf. Die boek handel oor die perspektief van wie ons is.

“Ek skryf niks voordat die Vader dit nie vir my sê nie. Al die woorde wat ek in die boek neerpen, word deur God aan my gegee. Alles is Goddelike inspirasie.”

Dié boek behoort later die jaar voltooi te wees.

Sy vertel dat om ‘n vrou in die bediening te wees soms uitdagings het, aangesien nie alle kerke en denominasies dieselfde voel oor vroue in die bediening nie. Vrouekonferensies help om brûe te bou, dit help om die verskille wat daar is makliker te verstaan en te aanvaar.

“Ek beplan ‘n Mighty Women Conference in Augustus waar ons ‘n groot groepe vroue van alle ouderdomme en kulture bymekaar gaan kry en saam gaan bid.”

“Met die hulp van die organiseerders van die Mighty Men Conference kan dit net ‘n sukses wees. Ek is baie opgewonde oor dié eerste vir Polokwane. Ons is reeds sowat 45 kerke wat handevat met die projek. Ons wil die stad laat terugkeer na God, want sonder Hom is niks moontlik nie.”

Sy vertel dat met die beplanning van die Mighty Women Conference sy verskeie kerke in die stad besoek, waar sy soms preek, en soms net sit en luister.

Sy glo dat hier ‘n groot ommekeer in die stad gaan plaasvind. Sy tree ook op as motiveringspreker en hou huwelikseminare, manne- en vrouekampe en bied ook hulp aan tieners.

“Ek het ‘n groot passie vir tieners en geniet dit om met hulle te werk. Elke keer wat ek hoor iemand het sy hart vir die Here gegee, juig ek saam met die Engele. My hart en siel loop oor van dankbaarheid as iemand na my toe kom en sê dat wat ek getuig, hulle lewens verander het.”

 

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version