Bosveld NewsLocal NewsNews

Mia se stem weergalm op The Voice SA

Mia vertel dat die musiekbedryf ongelooflik moeilik is en dat sy al talle struikelblokke op haar pad gehad het.

MOKOPANE se jong plaaslike sangeres, Mia Louw het onlangs talle kykers verras toe sy op The Voice South Africa haar verskyning gemaak het.

Mia, (21), het Sondagaand haar hart uitgesing op die gewilde program met ‘n liedjie van Bobby van Jaarsveld, ”n Vrou wil dit hoor’, in die hoop dat hy sy stoel vir haar sal omdraai. Tot haar verbasing het die sanger, Kahn Morbee, haar goue stem gehoor en haar vir sy span opgeraap.

Mia, wie se regte naam Mariska Pretorius is, het al op die ouderdom van 12 begin sing en musiek is haar passie. Sy studeer onderwys (geskiedenis en kuns) aan die Noordwes Universiteit en hoop om eendag vir gr. 4-9 klas te gee.

Sy vertel dat sy mal is daaroor om kennis aan kinders oor te dra en dat dit moeilik is om te kies tussen musiek en onderwys.

Mia Louw tydens haar oudisie op die verhoog nadat Kahn Morbee sy stoel vir haar gedraai het.

Bosveld was nuuskierig oor die groot prestasie wat sy behaal het en het by haar gaan aanklop.

Hoekom het jy besluit om aan The Voice deel te neem?

“Die heel eerste keer toe ek die program gekyk het, het ek vir my ouers gesê dat ek dit ook graag wil doen. Een van my vriende het my ook aangemoedig om hierdie jaar in te skryf. Dit was baie toevallig, want die dag van die oudisies het my ma vir my ‘n SMS gestuur om te sê dat The Voice in Potchefstroom is. Ek het toe besluit om te probeer”.

Hoe voel jy daaroor dat Bobby nie vir jou gedraai het nie, en hoe is Kahn as mens?

“Ek wou graag hê dat Bobby my moes kies, maar nou is ek so bly dat ek aan Kahn se kant is. Dit is ‘n eer dat hy my gekies het. Hy is ‘n goeie musikant met sy voete plat-op-die aarde. Hy neem musiek baie ernstig op en gee die beste raad. Ek het ook uitgevind dat hy bang is vir spinnekoppe en vroeër in sy lewe ‘n onderwyser was. Al die beoordelaars is eintlik dood normale mense wat ook iewers moes begin”.

Hoe het dit vir jou gevoel toe jy daar op die verhoog staan?

“Dit is ‘nervewrecking’. Dit voel asof jou maag sink en jy hoor slegs jou eie voetstappe terwyl jy weet dat daar honderde mense in die gehoor is wat vir jou kyk”.

Wat sien jy die meeste na uit tydens die program en sal jy kwaad wees as jy uitval?

“Ek sien daarna uit om myself as kunstenaar te laat groei en te kyk wat ek met my stem kan bereik. In hierdie kort rukkie wat ek saam met al die ander talentvolle deelnemers asook beoordelaars was, het ek reeds soveel geleer. Ek sal glad nie kwaad wees as ek uitval nie, maar tog ‘n bietjie hartseer. Ek sal weet dat die Here miskien iets groters op my pad sal stuur”.

Wat is jou inspirasie om aan te hou sing?

“My ouers is my grootste inspirasie. My pa veral omdat hy ook van ‘n jong ouderdom af begin sing het. Hy kon nooit sy passie uitleef nie en moes begin werk om vir sy familie te sorg. Hy werk tans oorsee en toe ek hom bel om te vertel dat ek gaan deelneem, was hy so bly. Die Here het my ‘n talent gegee en ek glo dat ek dit tenvolle moet benut. Ek wil net dankie sê aan my ma wat my altyd rondry waar ek moet wees en daar is vir ondersteuning”.

Mia vertel dat die musiekbedryf ongelooflik moeilik is en dat sy al talle struikelblokke op haar pad gehad het.

Sy sê dat sy dit sal waardeer as aanhangers vir haar stem sodra die stemmery begin en gee die volgende raad aan jong mense: “Vat ‘n kans in die lewe. Jy weet nooit hoe goed jy kan wees nie, want jy is jou enigste beste inspirasie en net jy kan op jouself vertrou”.

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button