Verbasing in hof oor rol van Wiers-tuinier in moordsaak

Die polisie het geen antwoorde oor die rede waarom die tweede verdagte in die Tanya Wiers-moordsaak steeds nie gearresteer is nie ten spyte van die ondersoekbeampte, Lesibana Mametja se getuienis tydens Frans Maela se borgaansoek Dinsdag dat hy weet waar die tweede verdagte woon en dat hy tuis is. Mametja se getuienis het die oë …

Die polisie het geen antwoorde oor die rede waarom die tweede verdagte in die Tanya Wiers-moordsaak steeds nie gearresteer is nie ten spyte van die ondersoekbeampte, Lesibana Mametja se getuienis tydens Frans Maela se borgaansoek Dinsdag dat hy weet waar die tweede verdagte woon en dat hy tuis is.
Mametja se getuienis het die oë laat rek. Die enigste antwoord wat Mametja oor die skokkende toedrag van sake kon gee, is dat daar nie konkrete bewyse teen hom is nie, ten spyte van die feit dat hy vroeër getuig het dat Maela die dag na die moord ‘n bekentenis by die Seshego polisiestasie gemaak het waarin hy glo beweer het dat die tweede verdagte, Wiers se tuinier, die moord gepleeg het.
Provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo kon ook nie op Polokwa­ne Observer se navraag reageer nie.
Maela se verklaring, verlede
Maela se regverteenwoordiger het sy beëdigde verklaring voor die hof gelees waarin bevestig is dat hy ‘n kamer saam met sy meisie huur en slegs R500 borgtog kan bekostig. Hy het ook bevestig dat Maela vir ongeveer ses maande as tuinier by die Wiers se bure werksaam was en aangedui dat Maela onskuldig sal pleit en dat hy nie een van die getuies ken nie en daarom nie sal inmeng indien hy op borgtog vrygelaat word nie.
Hy het glo ‘n vorige veroordeling van intimidasie teen hom. Dié saak dateer terug na Mei 2009 in Bochum waar hy R300 skulderkenningsboete betaal het.
Mametja onder kruisverhoor
As polisiekaptein met 30 jaar ondervinding het Mametja getuig dat Maela ernstige klagte in die gesig staar en aanbeveel dat hy nie op borgtog vrygelaat word nie.
Hy het Maela se verklaring dat hy nie die getuies ken nie as ‘n leuen afgemaak omdat Wiers-familielede en die buurman se huishulp onder die getuies is waarmee hy goed bekend is.
Mametja het verder getuig dat Maela deur voetspore in die Wiers-tuin en ‘n gesteelde tabletrekenaar en selfoon in sy besit met die moord verbind word. Hy het gesê dit sal ongeveer twee maande vir die ondersoek neem om afgehandel te word en dat daar steeds op die DNS-toetse se uitslae gewag word.
Wat het die dag van die moord gebeur?
Tydens Mametja se kruisverhoor deur die aanklaer is verwys na ‘n skuldbekentenis wat Maela afgelê het oor wat die dag van die moord op 7 Februarie gebeur het.
Volgens Mametja het Maela erken dat Wiers se tuinier by hom oor sy loon gekla het. Die twee het Wiers in die kombuis gekry en sy is volgens Maela deur die tweede verdagte oorval. Hy het na bewering ‘n mes uit een van die laaie gehaal en haar na ‘n slaapkamer gesleep. Die tweede verdagte het Wiers eers met ‘n skêr gesteek, maar die skêr het gebreek waarna hy sy aanval met die mes voortgesit het.
Maela het glo beweer dat hy slegs toegekyk het hoe die tweede verdagte Wiers aanhou­dend gesteek het. Die man het blykbaar ty­­dens die voorval vir Maela gesê om die huis vir waardevolle items te deursoek. By sy te­rugkeer was Wiers se broek afgetrek, maar hy kon nie bevestig of die tweede verdagte haar verkrag het nie.
Maela het glo tydens die aanval vir sy meeloper gesê om op te hou, maar die man het aangehou totdat hy seker was dat Wiers dood is.
Maela kon onthou dat daar baie bloed uit haar nek gestroom het en dat sy in die nek, kop, skouers en hande gesteek is.
Hulle het die huis verlaat en hy het die gesteelde goedere in ‘n toilet in die buurman se erf gaan wegsteek waar dit later die dag gevind is.
Buurman se huishulp hoor moontlik moorddaad
Mametja het getuig dat die buurman se huis­hulp wat saam met Maela werk aan hom vertel het dat sy iemand hoor huil het. Sy het afgelei die geluide kom van die Wiers se huis af en het glo vir Maela geroep om ondersoek in te stel, maar kon hom nie opspoor nie.
Ongeveer vyf minute later het Maela haar geroep om die hek vir hom oop te maak en gesê dat hy selfoonlugtyd gaan koop waarna hy glo reguit na die buitekamer toe is.
Die verdediging
Landdros Janine Ungerer het tydens die verdediging se kruisondervraging van Mametja twee keer aan die regsverteenwoordiger gevra of hy nie eerder die borgaansoek wil laat vaar nie omdat hy nie tot die punt in sy kruisondervra­ging kom nie. Hy het onder meer bewe­ringe gemaak dat Maela se bekentenis onder dwang gemaak is.
Ungerer het die hof vir vyf minute verdaag om die regsverteenwoordiger kans te gee om konkrete vrae voor te berei.
Nadat die hof verdaag het, het Maela se regsverteenwoordiger geen verdere vrae gehad nie waarna die aanklaer aanbeveel het dat die saak uitgestel word sodat hulle ‘n tweede getuie, die persoon aan wie Maela sy bekentenis gemaak het, tot die bank kan roep. Die saak is tot môre (Vrydag) uitgestel.

Exit mobile version