Jong hartpasiënt kry nuwe kans op lewe

Dandre Kotze het op die jong ouderdom van slegs agt maande dalk meer as baie volwassenes deurgemaak nadat hy verlede maand ‘n opehartoperasie in Johannesburg ondergaan het. Tydens sy ses weke ondersoek het ‘n plaaslike arts ‘n hartklopgeruis gehoor waarna ‘n pediater bevind het dat dit ernstig is en ook ‘n liesbreuk gediagnoseer het. Voordat …

Dandre Kotze het op die jong ouderdom van slegs agt maande dalk meer as baie volwassenes deurgemaak nadat hy verlede maand ‘n opehartoperasie in Johannesburg ondergaan het.
Tydens sy ses weke ondersoek het ‘n plaaslike arts ‘n hartklopgeruis gehoor waarna ‘n pediater bevind het dat dit ernstig is en ook ‘n liesbreuk gediagnoseer het.
Voordat die liesbreuk herstel kon word, moes Dandre se ouers, Quintin en Hanri hom na ‘n pediatriese kardioloog neem om te bepaal of sy hart sterk genoeg is om narkose te hanteer. Na ‘n sonar en elektrokardiogram (EKG) is Tetralogie van Fallot, ‘n aangebore hartdefek wat veroorsaak dat die longslagaar nie na behore ontwikkel nie, by hom gediag­noseer en ‘n angiogram het aangedui dat sy suurstofvlakke wisselvallig is.
Dandre het drie dae later ‘n opehartoperasie van vier uur onder leiding van ‘n vooraanstaande chirurg ondergaan waartydens sy longslagaar vergroot is. Vir twee weke daarna was hy aan ‘n reeks masjiene gekoppel waartydens binneaarse medikasies toegedien is en ‘n respirator sy longe tydens die herstelproses moes ondersteun.
Tydens die operasie is gevind dat hy ook nie ‘n timusklier het nie wat noodsaaklik is vir die mens se imuunstelsel. Tot op twee jaar moet hy tien inspuitings wat R15 000 elk kos, kry om sy immuniteitstelsel aan te vul en hom teen die respiratoriese sensitiale virus (RSV) te beskerm.
Hanri sê sy moet emosioneel sterk bly ter wille van hul tweejarige dogter, Adelyn, maar dat sy baie groot geskrik het toe die geruis in Dandre se hart die eerste keer opgemerk is. “Ek is dankbaar dat ons aan ‘n goeie mediese fonds behoort omdat die koste van die behandeling tot R1miljoen kan beloop.”
Dandre sal volgens spesialiste ‘n normale lewe kan lei en die are om sy hart sal waarskynlik eers weer in sy laat 20’s hersien moet word.

Storie: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za

Dandre Kotze sterk aan na sy opehartoperasie. (Foto: Verskaf)
Exit mobile version