Local NewsNews

Dapper Marilé verloor tweede keer teen kanker

“Dit gaan so-so met my. So tussen die vloer en politoer.” Dié reaksie van Marilé Bezuidenhout twee weke voor haar dood is kenmerkend van haar absolute positiwiteit en wilsbesluit om ten spyte van haar vinnige agteruitgang en be­denk­like gesondheidstoestand moed te hou. Dit is ook dieselfde humorsin en dapper benadering van haar wat haar man, …

“Dit gaan so-so met my. So tussen die vloer en politoer.”
Dié reaksie van Marilé Bezuidenhout twee weke voor haar dood is kenmerkend van haar absolute positiwiteit en wilsbesluit om ten spyte van haar vinnige agteruitgang en be­denk­like gesondheidstoestand moed te hou.
Dit is ook dieselfde humorsin en dapper benadering van haar wat haar man, Jarques, uitsonder as van die eienskappe wat sy 40-jarige vrou die beste gedefinieer het.
Marilé is Vrydag in Mediclinic Limpopo oorlede nadat fase 4 kanker wat versprei het binne maande die oorhand gekry het.
In Junie 2013 het sy ‘n mastektomie ondergaan waarna chemoterapie en bestraling gevolg het en sy vir twee jaar en agt maande in remissie was. In dié tyd het sy haar opvolgbesoeke getrou nagekom.
“In Julie verlede jaar het Marilé ‘n droë hoes ontwikkel wat na drie weke nie wou opklaar nie. Verdere toetse het gewys dat die kankertelling gelig het en dat sy aan perikar­ditus (hartsakontsteking) ly wat die hart en gevolglik die longe se funksies drasties inperk. Na die laaste van twaalf chemoterapiesessies en nuwe toetse het ‘n plaaslike onkoloog in November verlede jaar gesê sy moet van voor af met ‘n reeks alternatiewe chemoterapiesessies begin omdat die kanker versprei het en die behandeling onsuksesvol was.”
Jarques was bekommerd dat te veel tyd intussen verloop het omdat omvattende toetse volgens hom nie plaaslik gedoen is nie. Hul het ‘n onkoloog in Pretoria vir ‘n tweede opinie gaan spreek. Na ‘n omvattende reeks toetse is intense chemoterapiebehandeling aanbeveel, maar Marilé is gewaarsku dat haar prognose swak was. Na die tweede sessie moes die behandeling gestaak word omdat haar hartfunksie met 30% gedaal het en haar longe in so mate verswak het dat sy nie sonder suurstof kon funksioneer nie. Daarna het haar toestand drasties versleg.
“Marilé se integriteit was altyd bo verdenking, sy was die konstante een, my alles. Ons het oor 23 jaar ‘n ongelooflike pad saamgestap wat nie altyd maklik was nie, maar met haar kalm benadering het sy my gehelp om die regte besluite op die regte tyd te neem,” het ‘n aangedane Jarques Dinsdag aan Polokwane Observer oor haar heengaan gesê.
Marzaan Hurter, haar skoonsuster sê Marilé kon met haar hoë emosionele intelligensie enige situasie goed hanteer omdat sy koelkop gebly het. Selfs ouer mense het na haar opgekyk omdat sy altyd eers ‘n situasie opgesom en mooi gedink het voordat sy ‘n besluit geneem het.
Marilé word ook oorleef deur ‘n seun, Zander (20) wat sê dat hy en sy ma beste pelle was wat geen geheime vir mekaar gehad het nie en ‘n dogter, Clarissa, ‘n matrikulant aan Hoërskool Pietersburg.
‘n Troosdiens vir haar vind môre (Vrydag) om 11:00 vanuit AGS Taberna Dei Ooskampus in Bekkerstraat 106 plaas.

Storie & foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button