Moordsaak hervat in Maart

Die hofsaak waarin Kevin Clerk tereg staan op die moord op André van den Berg is vandeesweek na die aanhoor van deskundige getuienis uitgestel vir betoog.

MOKOPANE – Clerk, die beskuldigde het in 2014 na ‘n kuiersessie, die oorledene na bewering voor sy huis in Geyserstraat doodgery.

Die ‘tref en trap’ hofsaak is op Dinsdag en Woensdag voortgesit in die Mokopane Landdroshof waar daar van ‘n motorbotsing-rekonstruksie-deskundige, prokureur Philip Smit, gebruik gemaak is om die feite en uitleg van die moontlikheid dat Clerk se voertuig die oorledene getref het, aan die hof te verduidelik.

Lees meer:Tref-en-trap saak uitgestel

Volgens Smit het die ooggetuie, Martin van Eck, verduidelik dat die oorledene aan die regtervoorkant van die beskuldigde se voertuig getref is. Smit het getuig indien die oorledene wel aan die regtervoorkant van die motor getref is, sou hy nie op die plek gelê het waar hy gevind is nie. Hy moes meer reguit inlyn met die voertuig gewees het. Hy moes ook meer beserings opgedoen het aan die kant waar hy gestamp is, soos heupbeserings.

Volgens die nadoodse ondersoek, was geen besering van daardie aard gevind nie en slegs ‘n merk oor sy bors en ribbekas. “Dit is moontlik, aangesien van den Berg miskien onder die invloed van drank was, omgekap het en langs die pad gelê het waarna iemand oor hom kon ry.” Smit meen ook dat hy glad nie twyfel oor die feit dat Clerk hom nie getref het nie.

Volgens Clerk se prokureur, Osie Oosthuizen, is sy kliënt geensins skuldig nie en moet hy so vinnig as moontlik ontslaan word.

Die saak is uitgestel vir betoog op 16 Maart waar die hof Clerk skuldig of onskuldig sal bevind.

lionel@nmgroup.co.za

Exit mobile version