Tanya Wiers verdagte Dinsdag in hof

Frans Maela (25) wat daarvan verdink word dat hy Tanya Wiers drie weke gelede op wreedaardige wyse in haar huis in Eduanpark vermoor het, het Dinsdagoggend vir die derde keer in die hof verskyn. Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer sy borgtogaansoek hervat sal word. Lede van die Demokratiese Alliansie (DA), Nasionale Konserwatiewe Party …

Frans Maela (25) wat daarvan verdink word dat hy Tanya Wiers drie weke gelede op wreedaardige wyse in haar huis in Eduanpark vermoor het, het Dinsdagoggend vir die derde keer in die hof verskyn.
Die saak is tot Dinsdag uitgestel wanneer sy borgtogaansoek hervat sal word.
Lede van die Demokratiese Alliansie (DA), Nasionale Konserwatiewe Party (NKP) en ondersteuners van die Justice for Tanya Wiers-facebookgroep het die hofsaal weer gevul om teen Maela se borgtogaansoek te betoog. Enkele ondersteuners het ook buite die hofgebou byeengekom.

Frans Maela verskyn Dinsdag weer in die Polokwane Land­droshof in verband met die moord op Tanya Wiers.

Die hofverrigtinge het gesloer omdat die hof vir ‘n seniorstaatsaanklaer en die ondersoekbeampte moes wag. Die saak sou om 11:30 hervat het en teen dié tyd het die meerderheid betogers reeds verdaag.
Die provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo het glo laatmiddag bevestig dat die saak tot Dinsdag uitgestel is om die borgtogaansoek te hervat.
Wiers se liggaam is deur haar 16-jarige seun in die gesin se huis gevind toe hy van die skool af gekom het. Haar gesig is onder meer onherkenbaar geskend met minstens twintig steekwonde.
Die polisie het later die dag van haar dood vir Maela, na bewering ‘n tuinier van Wiers se buurman, in verband met die moord gearresteer. Juweliersware, ‘n tabletrekenaar en selfoon uit die moordhuis is ook by hom gevind.

Lede van die NKP betoog teen Maela se borgaansoek. (Foto: RC Myburgh)

DA provinsiale leier, Jacques Smalle wat die laaste twee hofverrigtinge bygewoon het, het reeds ‘n skrywe aan die provinsiale polisiekommissaris oorhandig waarin hy ‘n dringende vergadering aanvra om die dramatiese styging in moorde en veral plaasmoorde die afgelope vyf weke te bespreek. Yolande Nel berig elders.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Exit mobile version