Local NewsNews

Raaisel rondom drawwer se dood verdiep

Die geregtelike doodsondersoek van Franzi Neukomm wie se liggaam Sondag langs die Myngenoegenpad gevind is, kan klaarblyklik na ‘n moordsaak verander. Polokwane Observer het inligting ontvang dat die staatspatoloog gister (Woensdag) glo aan die bestuur van Myngenoegen Shelter, waar hy gewoon het, bevestig het dat Neukomm se beserings nie met dié van ‘n tref-en-trapongeluk ooreenstem …

Die geregtelike doodsondersoek van Franzi Neukomm wie se liggaam Sondag langs die Myngenoegenpad gevind is, kan klaarblyklik na ‘n moordsaak verander.
Polokwane Observer het inligting ontvang dat die staatspatoloog gister (Woensdag) glo aan die bestuur van Myngenoegen Shelter, waar hy gewoon het, bevestig het dat Neukomm se beserings nie met dié van ‘n tref-en-trapongeluk ooreenstem nie, maar dat hy ander veelvuldige beserings opgedoen het wat op moord dui.
Aanvanklik is daar op die toneel beweer dat hy vermoedelik deur ‘n voertuig getref is toe hy vroegoggend gaan draf het en daarna om hulp na ‘n nabygeleë kleinhoewe gekruip waar hy deur honde aangeval is.
Neukomm se een tekkie is langs die teerpad gevind en daar was kruip- of sleepmerke op die toneel. Sy liggaam is langs die ingangsmuur van ‘n kleinhoewe gevind.
Shelterbestuurder, Thys Booyjens, het bevestig dat Neukomm elke oggend om 04:30 gedraf het en dat hulle onraad vermoed toe hy omstreeks 08:00 nog nie terug was nie. Kort daarna het ‘n lid van die plaaslike buurtwag opgedaag en gevra of hulle iemand vermis waarna die shelterbestuur na die toneel ongeveer 3 km verder op die Myngenoegenpad is om die man te identifiseer.
Danie Oosthuizen, ‘n plaaslike pastoor het Neukomm tydens hospitaalbesoek ontmoet en deur Christa van Tonder, mededirekteur van die shelter vir hom blyplek gereël waar hy die afgelope ses maande tuisgegaan het.
“Hy was ‘n oulike fluks man wat graag take by die shelter verrig het,” sê Van Tonder.
Neukomm sou volgens haar op 1 Mei by ‘n gastehuis in Orania begin werk het. Dit is nog nie duidelik of hy familie het nie.
Polokwane-polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het die voorval bevestig, maar wou nie oor die oorsaak van sy dood uitbrei nie. “Ons is nog besig met die ondersoek en die oorsaak van die man se dood is nog nie amptelik bekend nie. Ons kan nie bespiegel nie en sal eers moet wag.”

Storie:
RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com
ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

Related Articles

Back to top button