MOKOPANE – Die gr. 11 leerder wat verkies om anoniem te bly, is oor haar kop met ‘n mes geslaan en van haar selfoon beroof toe sy Maandagmiddag na skool in Norman Mashabane- en Pretoriusstraat huis toe stap. Die rower het daarna opvlug geslaan in die naby geleë bosse.
Motoriste het die voorval gesien en dadelik hulp verleen waarna die Mokopane polisie, Suricat Armed Response Sekuriteit en Special Operation Solutions (SOS) binne sekondes op die toneel was.
Met al die hulp is die rower vinnig vasgetrek en na die meisie gebring vir uitkenning.
Haar selfoon en ander items is in sy broeksak gevind. ‘n Saak van gewapende roof is oopgemaak.
Suricat Armed Response vra die gemeenskap om nie in afgeleë gebiede soos hierdie te loop nie. “Dit hou gevaar in en daar moet ook iets gedoen word aan die grasse wat so wild hier groei,” het Arno Bronkhorst, een van Suricat se knap Reaksie-offisiere gesê.