34 jaar, 3 geslagte en ‘n suksesvolle besigheid

"Ek het altyd gehoop en beplan dat my seun eendag moet oorneem. Ons is almal versot op motors en werk lekker saam as familie."

POLOKWANE – Daar is sekerlik min ondernemings in Polokwane wat na ‘n bestaan van 34 jaar nog altyd in dieselfde familie is.

Synchro Motors spog met dié eer nadat Attie van der Merwe die besigheid begin het en later sy seun, Hein, en nou onlangs sy kleinseun, Heinrich (18) deel gemaak het daarvan.

Attie (64) vertel hy het die besigheid op 3 Januarie 1983 begin en het altyd gehoop dat sy seun, Hein (44), die leisels sal oorneem.

“Ek het altyd gehoop en beplan dat my seun eendag moet oorneem. Ons is almal versot op motors en werk lekker saam as familie.”

Hy vertel dat daar deur die jare moeilike tye was, maar dat hulle as familie saamgestaan en deurgedruk het. Aangesien die familie almal gek is oor motors, neem hulle saam deel aan veldwedrenne, tydrenne en ander motorsport. Die vroue in die familie werk ook by Synchro Motors en deel die mans in hulle lewens se liefde vir motors.

Attie, Hein en Heinrich vertel dat eerlikheid teenoor mekaar die geheim vir ‘n suksesvolle en vreedsame werksarea is.

“Ons is nie agteraf nie. Ons sê vir mekaar wat ons moet en beweeg aan,” vertel Attie. Hein las by dat omdat dit ‘n familiebesigheid is, werk hulle harder aangesien hulle nie kliënte of mekaar wil teleurstel nie.

Hy vertel dat die besigheid vir hom iets is om op trots te wees en te bou.

Heinrich sê dat hy gelukkig is om vars uit die skool in ‘n gevestigde besigheid in te stap en ‘n werk te kan hê wat hy geniet. “Ek het reeds geleer dat ‘n mens moet volhard en aanhou probeer tot jy regkom.”

Sy oupa vertel laggend hoe Heinrich nie ‘n motor se vensters kon uitslaan toe dit gedoen moes word nie, maar hoe hy gou geleer het om dit te doen en dat daar nou geen keer aan hom is nie.

“My pa het my geleer om hard te werk en altyd eerlik te wees. ‘n Mens is nooit te oud om te leer nie,” vertel Hein.

“Ons hoop om ten minste nog 34 jaar te bestaan en die familie en besigheid saam te bou,” vertel Attie trots.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version