Rus sag Jonathan

'n 17-Jaarige seun wat vanaf geboorte met nierversaking gesukkel het en nie 'n skenkernier betyds kon kry nie, het sy lang stryd gewonne gegee.

MOKOPANE – Jonathan Jooste, ‘n oud-leerder van Hoërskool Piet Potgieter wat op twee- jarige ouderdom ‘n nieroorplanting ondergaan het, is oorlede nadat hy vier jaar op ‘n waglys was vir ‘n skenkernier.

Sy pa, Albie, vertel hy het een van sy niere reeds op tweejarige ouderdom aan sy seun geskenk. Jonathan het egter kort daarna waterpokkies gekry en dit het sy nuwe nier beskadig. Hy is op ‘n waglys geplaas en na vier jaar is daar nie ‘n skenkernier gevind nie en Jonathan se hartklep het verkalk van die beskadigde nier se gifstowwe. Hoewel Jonathan se spesialis ‘n week gelede bevestig het dat sy tyd min is en hom wou laat opneem in die hospitaal vir morfienbehandeling, het sy ouers besluit om hom tuis rustig te hou en te versorg.

“Jonathan was Sondag nie wel nie en het al hoe meer verswak. Ons het hom toe na sy plaaslike dokter geneem, wat hom spierverslappers toegedien het vir die spasmas. Ons het deur die nag by hom gesit. Hy is egter 03:30 Maandagoggend oorlede.”

Albie sê hy was baie trots om sy nier vir sy seun te kon skenk. “Enige ouer sal so iets vir sy kind doen. Ek het vir die dokters gesê as hulle een oggend in hulle spreekkamers kom, is daar nog ‘n nier in ‘n sakkie.”

Jonathan se jonger broer, Armand, is sowat ses jaar gelede op tweejarige ouderdom ook aan nierversaking oorlede, vertel Albie.

Sy ma, Johannie, beskryf Jonathan as ‘n spontane kind wat altyd grappies en nuwe vriende gemaak het. Sy begrafnis is Saterdag in Rustenburg waar hy in dieselfde graf as sy boetie ter ruste gelê sal word. Die egpaar het ook ‘n dogter.

Indien daar inwoners is wat die begrafnis in Rustenburg wil bywoon, is hulle welkom om Johannie by 081 364 5939 of Albie by 083 990 8522 te kontak.

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news visit us on ReviewOnline and CapricornReview or follow us on Facebook or Twitter
Exit mobile version