Vals polisiekaptein, voortvlugtige verkragter agter tralies

‘n Voortvlugtige verkragter wat hom as polisiekaptein voorgedoen het, is verlede Donderdag in die Pretoria landdroshof tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis. Alex Mailula, wie se regte naam Alex Matsobane Maake is, het vir langer as twee jaar in Seshego diens gedoen nadat hy uit die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum ontsnap het. Hy het nou op …

‘n Voortvlugtige verkragter wat hom as polisiekaptein voorgedoen het, is verlede Donderdag in die Pretoria landdroshof tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis.
Alex Mailula, wie se regte naam Alex Matsobane Maake is, het vir langer as twee jaar in Seshego diens gedoen nadat hy uit die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum ontsnap het.
Hy het nou op aanklagte van bedrog, die voordoen as ‘n polisie-offisier, ontsnapping en oortreding van die korrektiewe dienstewet skuldig gepleit. Sy vrou, Isabella het ‘n 12 maan­de opgeskorte vonnis op ‘n klag van oortreding van die korrektiewe dienstewet gekry nadat ‘n selfoon in Maake se aanhoudingsel gevind is.
Die Valke se nasionale woordvoerder, Hangwani Mulaudzi sê Maake het in 2002 met die gereg gebots toe hy op ‘n klag van verkragting en diefstal skuldig bevind is. “Tydens sy tronkstraf in die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum het hy ‘n polisiekonstabel, Princess Mahlangu ontmoet wat hom ook later gehelp het om te ontsnap. Sy het in 2012 voorgegee dat sy ‘n saak teen hom ondersoek en ‘n vals dossier geopen. ‘n Aanklaer van die Pretoria Landdroshof het ‘n versoek uitgereik dat Maake uitgeteken kan word vir verdere ondersoek en ondervraging waarna hy in Silverton ontsnap het,” sê Mojapelo. Sy is kort daarna uit die polisiediens geskors.
Kort na sy ontsnapping het Maake sy opwagting by die Polokwane polisiestasie gemaak en as ‘kaptein Mailula van hoofkantoor’ aangemeld.
Hy het glo volle toegang tot alle vertroulike inligting van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gehad, met ‘n gemerkte polisievoertuig gery, ‘n dienspistool gehad en gesaghebbend opdragte aan polisielede gegee.
Sy kollegas het glo vermoed dat hy nie ‘n volwaardige polisielid is nie omdat hy sukkel om dossiere te open na arrestasies. Hy is in Februarie 2015 gearresteer, maar het twee dae later uit die aanhoudingselle ontsnap en is enkele dae later in Pretoria deur die Valke in hegtenis geneem.
Nadat korrektiewe dienstebeamptes ‘n selfoon in sy tronksel gevind het, is ‘n ondersoek begin. “Hy het minstens agt oproepe van sy vrou ontvang en 28 oproepe na haar gemaak wat tot haar arrestasie gelei het,” sê Mulaudzi.
Benewens die nege jaar vonnis is Maake in Januarie 2002 tot 12 maande vir roof in Boksburg gevonnis. In Junie dieselfde jaar is hy tot 15 jaar gevangenisstraf vir verkragting gevonnis en vyf jaar vir diefstal in Benoni. In 2015 is hy in Cullinan ook 15 jaar vir verkragting en diefstal gevonnis.

Exit mobile version