Local NewsNews

Man betaal dief R2 000 om eie selfoon terug te kry, word gedreig

‘n Diefstalslagoffer moes Maandag R2 000 opdok om sy eie selfoon wat vroeër die dag in Industria uit sy bakkie gesteel is by die vermeende dief terug te koop. Die sakeman, wat anoniem wil bly uit vrees vir verdere afpersing, sê hy het nie ‘n ander keuse gehad as om die bedrag te betaal nie …

‘n Diefstalslagoffer moes Maandag R2 000 opdok om sy eie selfoon wat vroeër die dag in Industria uit sy bakkie gesteel is by die vermeende dief terug te koop.
Die sakeman, wat anoniem wil bly uit vrees vir verdere afpersing, sê hy het nie ‘n ander keuse gehad as om die bedrag te betaal nie omdat die kontakte en nommers op sy selfoon baie meer werd is as die foon van sowat R300.
“Ek het gedink ek het my bakkie gesluit, maar by my terugkoms gesien die passa­sierdeur is effens oop en my selfoon is weg. Al my ander persoonlike besittings in die voertuig was onaangeraak,” sê hy.
Hy het sy selfoonnommer van sy huis af geskakel. “’n Vrou het geantwoord en gesê iemand het die selfoon in haar motor gelos, maar sekondes later was dit afgeskakel. Die verdagte het my dogter op haar selfoon geskakel en gesê ek kan haar by China Mall ontmoet om die selfoon te kry.”
Op pad soontoe het die vrou weer geskakel en die ontmoetingspunt verander. Hy is glo ure lank van bakboord na stuurboord gestuur. “Hulle moes my dophou want op ‘n stadium het hulle geskakel en gesê ek moet van die persoon wat saam met my ry, ontslae raak. My dogter was saam omdat hulle heeltyd op haar selfoon geskakel het.”
Die sakeman moes later by ‘n huis in Doornkraalstraat stop nadat hy sy dogter by ‘n kafee afgelaai het. “’n Man het my aandag van agter ‘n lae heining getrek en gevra of ek die geld het.
“Ek het dit aan hom oorhandig waarna hy my foon teruggegee het en ek myself vinnig uit die voete gemaak het.”
Die polisie was volgens hom glad nie behulpsaam nie. Hy was voor die petalje by die Polokwane polisiestasie om ‘n saak aanhangig te maak en te hoor of hulle die selfoon kan naspoor waarop hulle gesê het daar moet eers ‘n hofbevel uitgereik word. Na die transaksie met die verdagte het die sakeman die huis aan die polisie uitgewys. Niemand was tuis nie en die beampte het glo gesê hulle sal een aand ‘n klopjag op die huis doen en gery.
Dit was nie lank nie of die slagoffer het weer ‘n oproep van die verdagte ontvang wat hom gewaarsku het om nie die polisie na haar huis toe te bring nie.
Provinsiale polisiekommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo kon nie die saak bevestig nie, maar wel gesê dit is kommerwekkend. “Die saak is ernstig en slagoffers moet nie huiwer om die saak aan te meld nie. Indien hulle voel die polisie doen nie hulle werk nie, kan hul ‘n afspraak met die stasiebevelvoerder maak om die saak verder te voer.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button