Local NewsNews

Kraamhel, baba se dood lei dalk tot regstappe

Die Polokwane Provinsiale Hospitaal is weer eens in die spervuur na die dood van ‘n baba Saterdagaand en alhoewel sommige beweringe deur die departement ontken is, het ‘n tweede egpaar byna dieselfde nare ondervinding Woensdag (gister) beleef. Antoné en Riaan Roux was Saterdagoggend nog opgewonde oor hul eersteling, Riané, se geboorte en die moontlikheid dat …

Die Polokwane Provinsiale Hospitaal is weer eens in die spervuur na die dood van ‘n baba Saterdagaand en alhoewel sommige beweringe deur die departement ontken is, het ‘n tweede egpaar byna dieselfde nare ondervinding Woensdag (gister) beleef.
Antoné en Riaan Roux was Saterdagoggend nog opgewonde oor hul eersteling, Riané, se geboorte en die moontlikheid dat sy kon sterf was nie eens ‘n vae moontlikheid nie.
Die egpaar beweer dat nalatigheid, arro­gan­sie en rompslomp van verpleegpersoneel tot die dood van hul eersteling gelei het.
“Antwoorde en regstappe kan nie my kind terugbring nie, maar ek hoop dat die skuldi­ges aan die pen sal ry sodat ander nie dieselfde pad hoef te stap nie,” sê ‘n hartseer Antoné.
Sy en Riaan het Saterdag net voor 20:00 na Rethabilekliniek gejaag nadat sy kraampyne begin kry het. Sy was 38 weke swanger. Kliniekpersoneel het haar na die provinsiale hospitaal verwys waar haar nagmerrie in die kraamsaal begin het. “Een verpleër was erg ongeskik. Toe ek verduidelik dat ek dalk in kraam is, het sy my stilgemaak en gesê sy sal self besluit wat fout is. Ek moes vorms invul en ‘n nagrok aantrek waarna sy linne gebring het en my beveel het om self die bed oor te trek.”
‘n Ander verpleër het haar bloeddruk geneem en na haar baba se hartklop geluister.
“Ek is emosieloos meegedeel dat my baba se hart nie meer klop nie wat veel later deur ‘n ander verpleër ook bevestig is. Die dokter sou glo tot 23:00 in ‘n vergadering wees. Ek wou my ma, Amanda, en Riaan by my hê maar hulle het geweier.” Volgens haar het ‘n verpleër hulle vroeër gevra om die wagkamer te ontruim omdat daar nie rede tot kommer is nie en hul na die geboorte geskakel sou word.
Antoné is later gevra om na die sonarkamer te stap. “Na vele pogings om een van die vier sonarmasjiene aan die gang te kry moes ek ongedane sake terugkeer.”
Om middernag het sy ‘n verpleër geroep en gesê sy is besig om te kraam, maar dié het glo gesê sy mag nie druk nie en moet diep asemhaal. “Dit het gevoel of net my baba se kop uit is toe hulle die naelstring knip. Daarna het hulle my gevra of ek my kind wil vashou. Hulle het Riané vir my gewys en gesê: ‘Do you see? She is dead.’”
Sonder medikasie of hulp moes sy glo na ‘n ander bed skuif waarna ‘n dokter opgedaag, aarvoeding toegedien en bloedtoetse aangevra het. Riaan is eers later by haar toegelaat.
“Die lyksbesorger het om 04:30 my kind by my geneem nadat ek haar nog een keer kon vashou. ‘n Dokter het my ondersoek en gesê hy het nog nie bloedtoetsuitslae ontvang nie en kan nie sê wat verkeerd gegaan het nie.”
Omstreeks 13:00 Sondag het die dokter weer gekom en gesê die uitslae het so lank geneem omdat Roux se van verkeerd op die stelsel ingelees is en hy dit nie kon opspoor nie. “Ek is daarna ontslaan. Riaan was net na 13:00 daar toe ‘n verpleër vir oulaas skoorsoek. Sy het gevra of ek al gebad het omdat ek so gestink het na die gemors wat ek die vorige aand veroorsaak het,” sê Antoné.
Die woordvoerder van die gesondheidsdepartement, Derick Kganyago, het Antoné se besoek aan die hospitaal en die dood van haar baba om 23:50 bevestig. “Sy is deur ‘n vroedvrou gehelp wat vermeld het dat sy haar bevinding dat die baba lank reeds dood was voordat Antoné by die hospitaal opgedaag het, aan die dokter gerapporteer het. Die bewering dat die dokter in ‘n vergadering was, is onwaar omdat daar geen vergadering was nie.”
Hy het bewerings van foutiewe sonarma­sjiene ook ontken en gesê Antoné is ‘n bed volgens die hospitaal se standaarde toegeken. “Dit is ons mening dat sy nie geweet het dat die baba reeds dood was nie en afleidings gemaak het dat hulle haar nie wil help nie of dat die toerusting foutief was. Ons bevestig dat sonartoerusting in die kraamsaal in ‘n werkende toestand is.”
Die ironie van Kganyago se kommentaar is dat ‘n vrou wat ‘n tweeling verwag en Dinsdag opgeneem is ook nie vir ‘n sonar kon gaan nie. Haar man sê die sonarmasjien het eers nie gewerk nie, maar na ‘n lang gesukkel kon hul wel daarin slaag om ‘n onvolledige sonar te neem. “Dit is deurgaans ‘n bakleiery met personeel en ek word gereeld gevra om te loop. Hulle praat glad nie met ‘n mens oor prosedures nie en ek het ‘n klag by die bestuur gaan lê,” sê hy. Gister (Woensdag) het personeel die man gevra hoekom hy gaan kla het.
In Desember is die vrou ook behandel. “Sy moes op vuil beddegoed lê omdat die wassery glo gesluit was. Na ‘n groot bohaai kon sy darem haar eie kussing gebruik.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button