Local NewsNews

Jonk, pronk en gesond op 83

Susie Wentzel Claassen laat niks op haar wag nie en het nog baie lus vir die lewe.

POLOKWANE – In Polokwane gebore maak sy al vir 83 jaar deel uit van die gemeenskap na sy haar skoolloopbaan by Hoërskool Pietersburg in 1952 voltooi het.

Sy het die gemeenskap al op verskeie maniere gedien en was vir 10 jaar ‘n verpleegster.

Dit, verduidelik sy, is iets wat steeds baie na aan haar hart lê en sy besoek gereeld pasiënte in hospitale.

Daarby is sy al die afgelope 37 jaar lid van die Vroue Landbou Unie waar sy verskeie eerste pryse al ingewin het met haar naaldwerkvernuf.

Sy het haar passie vir klere-ontwerp en -maak al telkemale ingespan om glansrokke vir matriekafskeide en troues te maak.

Susie word deur haar familie as iemand met baie spreekwoorde, wat sy daagliks gebruik, beskryf.

“Ek dring daarop aan om suiwer Afrikaans te praat en help mense vinnig reg as daar ‘n Engelse woord uitglip,” verduidelik sy.

Haar dogter, Charlot van der Berg, vertel dat dít die rede is hoekom sy so ‘n groot liefde vir die taal het en dit as vak by Laerskool Pietersburg aanbied.

Jare gelede het Susie ‘n melanoom ontwikkel maar sy het nie toegelaat dat dit haar onderkry nie en het sy steeds positief gebly.

“My uitkyk op die lewe is as jy iets in die lewe nie kan verander nie, aanvaar dit. Om op ‘n hopie te gaan sit en jouself te bejammer gaan jou nêrens in die lewe bring nie,” sê sy.

Haar positiwiteit is aansteeklik en, verduidelik sy, is waarskynlik die geheim agter haar gesonde lewe.

Sy ry gereeld nog perd en leef haar liefde vir boer op naweke uit.

Sy skroom nie om beeste aan te jaag en te spuit nie en om met bonsmara-koeie te werk is haar passie.

Daarby het Susie ‘n groot liefde vir inheemse bome en met haar groen vingers ontkiem en groei sy gereeld dié bome.

Nie een vir stilsit nie besoek sy die gimnasium drie keer per week, neem deel aan dansklasse en beoefen koorsang.

Haar raad aan ander is iets wat sy in haar kinders ook vas gemaak het: “Bly positief en aktief, ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees, en sien die humor in alles”.

In die aftree-oord waar sy woon, is sy ‘n ware Moeder Teresa en skroom sy nie om te help waar sy kan nie.

“Haar gene is so sterk dat ek haar op die ouderdom van 100 vir die leeus sal moet gaan voer,” skerts haar broer, Nick Claassen.

 

riana@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button