Local NewsNews

Noue ontkoming

Special Operation Solutions (SOS) en hul ambulansdiens, Arend Dorpwag, Bergwag, asook die polisie was binne minute op die toneel

DIE DA raadslid, Yolande Coetzee, en ‘n inwoner wie verkies om anoniem te bly, het verlede Donderdag ‘n noue ontkoming gehad toe hulle deur twee gewapende mans by ‘n onwettige stortingsterrein oorval is.

Coetzee en die man het die stortingsterrein in die Uitkyk-omgewing besoek toe hulle onverwags helder oordag vanuit die bosse oorval is.

Die inwoner het die gewapende man afgeweer en Coetzee kon gelukkig wegkom en vinnig hulp ontbied.

Sy vertel ‘n polisieman wat van diens af was, het gelukkig gestop en hulle het onmiddellik hulp ontbied.

Special Operation Solutions (SOS) en hul ambulansdiens, Arend Dorpwag, Bergwag, asook die polisie was binne minute op die toneel en kon mediese hulp verleen aan die inwoner wat aangerand is.

Die twee rowers het met geld en ‘n selfoon op vlug geslaan.

“Ek wil inwoners maan om nie vullis te stort nie. Julle stel nie net ons lewens in gevaar nie, maar ook jul eie,” sê Coetzee.

Coetzee en SOS het Maandag weer die terrein besoek om vas te stel wat die omvang van die situasie is, waarna sy die munisipaliteit genader het vir hulp in die gebied.

Die munisipaliteit het onderneem om Vrydag, 20 Januarie te begin opruim. Coetzee spreek haar dank uit teenoor die veiligheids- en nooddienste vir hulle flink optrede. “Ek besef nou weer hoe gelukkig ons is om hierdie knap mense in ons dorp te hê.”

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button