Local NewsNews

Ria du Plessis ‘se glimlag sal bly voortleef’

Daar is 'n groot leemte in die stad na die skielike afsterwe van een van die steunpilare, Ria du Plessis.

POLOKWANE – Ria (49) is laas Vrydag aan ‘n hartaanval oorlede.

Haar persoonlike stryd met kanker het haar motiveer om by Kansa Polokwane aan te sluit waar sy al die nasionale fondsinsamelingsprojekte soos Shavathon, Jail and Bail, Cuppa for Cansa en die Sanlam gholfdae in Limpopo gereël het.

Sy was die eerste keer in die ouderdom van 22 met velkanker gediagnoseer.

Tien jaar later is sy met baarmoederkanker gediagnoseer, en ‘n paar jaar gelede, in die ouderdom van 43, is daar ‘n gewas in haar keel verwyder.

Ria was ook ‘n bekende gesig as die skakelbeampte by die Polokwane Atletiekklub en het vir 10 jaar die Comrades Marathon as ondersteuner bygewoon.

Sy het in 2014 Polokwane vir die Jakarandastad verruil en het haar werk as gemeenskapsmobiliseerder by Kansa daar voortgesit het.

Haar seun, Driaan, vertel dat sy verlede jaar ‘n ernstige hartaanval gehad het gedurende ‘n galblaasoperasie.

“Die dokters het gesê sy moet ‘n pasaangeër kry voor sy weer ‘n galblaasoperasie kan ondergaan, maar sy het dit aanhou uitstel.

“Sy het Vrydagoggend nog vir my ‘n boodskap gestuur,” vertel hy.

Familie en vriende onthou haar as ‘n fantastiese mens met ‘n hart van goud en ‘n skitterglimlag.

Sy laat haar seun, Driaan, dogter, Andria en kleinseun, Tiandro, asook verskeie vriende en familie na.

maretha@nmgroup.co.za

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button