HPP mik vir 100%

Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se Skoolhoof, Jimmy Steele het openhartig met die gr. 12-leerders en hul ouers gesels oor die belangrike jaar wat voorlê.

MOKOPANE – “Net 20 weke en jou matriekjaar is daarmee heen, Maak dit onvergeetlik vir die regte redes. Tydsbestuur gaan jou grootste uitdaging wees. Moenie agter raak met jou werk nie, die geheim is om te luister en vra as jy nie verstaan nie. Nog nooit was die vennootskap tussen leerder, ouer en onderwyser so belangrik nie.”

Dit was die kragtige boodskap van Hoërskool Piet Potgieter (HPP) se Skoolhoof, Jimmy Steele, aan die skool se gr. 12-leerders tydens verlede Dinsdag se Posperita-geleentheid op die skool se atletiekveld.

Steele het openhartig met die gr. 12-leerders en hul ouers gesels oor die belangrike jaar wat voorlê.

Hy het daarop gewys dat daar in 2016 een druipeling was en slegs 52% van verlede jaar se matrikulante het universiteitstoelating (baccalareus) behaal.

“Dit is kommerwekkend dat HPP nie eers onder die top 20 skole is nie. Dit is egter nou bloot ‘n statistiek want HPP streef vanjaar daarna om ‘n 100% slaagsyfer te kry met minstens 60% van die matrikulante wie met universiteitstoelating sal kan spog,” het hy gesê.

Die gr. 12’s se graadhoof, Coba Beyneveldt, het gesê die onderwysers is bewus van hulle verantwoordelikhede teenoor die leerders.  “Net soos wat ons toegewyd is verwag ons dat die ouers ook toegewyd sal wees. Bid vir u kind, maak tyd vir gesprekvoering en sorg vir ‘n rustige leeromgewing,” las sy by.

Die leerders het aan die einde van die aand onderneem om vanjaar hul beste te gee op akademiese gebied. Hulle het ook elk kans gekry om ‘n klippie met hulle naam in ‘n glasbottel te gooi as simboliek van hul eenheid om die doelwit na te streef.

Exit mobile version