Local NewsNews

Swendelaars bedwelm bejaarde, roof glo R30 000

Nooddienspersoneel het Dinsdag na die Eduanparkpark gehaas om ‘n 66-jarige vrou vir skok te behandel nadat sy na bewering deur drie verdagtes bedwelm, van R30 000 beroof en by die park afgelaai is. Lucy Teffo was erg geskok en werknemers van die nabygeleë kafee het haar probeer kalmeer. Polokwane Observer het op die toneel met …

Nooddienspersoneel het Dinsdag na die Eduanparkpark gehaas om ‘n 66-jarige vrou vir skok te behandel nadat sy na bewering deur drie verdagtes bedwelm, van R30 000 beroof en by die park afgelaai is.
Lucy Teffo was erg geskok en werknemers van die nabygeleë kafee het haar probeer kalmeer. Polokwane Observer het op die toneel met Teffo gepraat.
Teffo sê sy was die oggend by ‘n teël- en hardewarewinkel in die industriële gebied om ‘n kwotasie vir boumateriaal te kry waar sy glo deur drie mans, waarvan twee hulle as polisielede voorgedoen het, om die bos gelei is.
“Ek het agtergekom ‘n man agtervolg my op ‘n kort afstand. Die volgende oomblik het ‘n tweede man, die soge­naamde polisieman, hom van my af weggestamp en gesê die agtervolger het iets aan my arm gesmeer en ek is moontlik ‘getoor’. Hy het verdere hulp aangebied en gevra waarheen ek op pad is. Ek het hom vertrou en gesê ek moet bank toe gaan om geld te trek,” sê Teffo.

Die koevert met opgevoude koerante wat met die R30 000 kontant omgeruil is.

Daar was volgens Teffo nog ‘n persoon in die rooi voertuig, vermoedelik ‘n Volkswagen Polo. “Hulle het buite die bank in die voertuig bly wag terwyl ek by ‘n winkelsentrum in Bendor R30 000 uit my rekening onttrek het en in ‘n koevert binne-in ‘n plastiese sak in my handsak versteek het.”
Teffo het weer ‘n saamrygeleentheid van die mans aanvaar. Tydens dié rit het een glo ‘n chemiese middel in haar gesig gespuit. “Ek was skielik baie deurmekaar en kan nie veel onthou nie, maar het eers in die park waar hulle my afgelaai het tot verhaal gekom. Toe ek die koevert oopmaak, is die geld met opgevoude koerantpapier vervang.” Sy meen die drie het saamgewerk om haar te beroof.
Edwel-gemeenskapspolisiëringsforum was vinnig op die toneel en ‘n soektog na die sogenaamde rooi Polo is begin, maar die motor kon nie opgespoor word nie. ‘n GPF-lid het bevestig dat die bank se beeldmateriaal wys hoe Teffo geld by ‘n kassiere in die bank onttrek en in ‘n rooi Polo klim. Nooddienspersoneel het Teffo vir verdere behandeling na die Polokwane Provinsiale Hospitaal geneem.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Mamphaswa Seabi sê dié tipe misdaad is besig om hand uit te ruk en word byna daagliks regoor die provinsie aangemeld. “Skurke teiken veral ouer mense omdat hulle nog bygelowig is en aan toordery glo. Misdadigers kom daagliks met nuwe skelmstreke vorendag om mense te beroof en ons waarsku opnuut om nie in sulke lokvalle gevang te word nie.”
Hy kon nie die spesifieke voorval bevestig nie.

Storie & foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: ‘n Winkelassistent probeer Teffo kalmeer nadat sy beroof is.  Links: ‘n Bewys van die R30 000 wat Teffo uit haar rekening onttrek het.

Related Articles

Back to top button