LUR, hoës besoek PHS na topmatriekuitslae

LUR vir onderwys, Ishmael Kgetjepe, Capricorn uitvoerende burgemeester, John Mpe, Polo­kwane uitvoerende burgemeester, Thembi Nkadimeng en speaker van die Limpopo-wetgewer, Polly Boshielo het Hoërskool Pietersburg (PHS) verlede Donderdag besoek om die skool met hul puik matriekuitslae geluk te wens. Die besoek aan PHS vorm deel van die plaaslike regering se terug skool toe-veldtog wat besoeke …

LUR vir onderwys, Ishmael Kgetjepe, Capricorn uitvoerende burgemeester, John Mpe, Polo­kwane uitvoerende burgemeester, Thembi Nkadimeng en speaker van die Limpopo-wetgewer, Polly Boshielo het Hoërskool Pietersburg (PHS) verlede Donderdag besoek om die skool met hul puik matriekuitslae geluk te wens.
Die besoek aan PHS vorm deel van die plaaslike regering se terug skool toe-veldtog wat besoeke aan die topskole sowel as skole wat swak presteer het, insluit. Premier Stan Mathabatha sou na verwagting later by die afgevaardiges wat skole regoor die provinsie besoek, aangesluit het.
Nkadimeng het gesê leerders moet in geloof vasklou om sukses te behaal terwyl Mpe en Boshielo dit eens was dat Limpopo jaarliks op PHS se uitslae trots kan wees en dat die skool ‘n groot bydrae tot die algehele prestasie van die distrik en die provinsie lewer.
“Die doel van die besoek is om julle, die skoolhoof, leerders en onderwysers geluk te wens met ‘n byna 100% slaagsyfer. Júlle is ‘n 100% skool en dit is duidelik dat jul jaarliks na goeie punte streef. Ons wil ook vanjaar se matrieks aanmoedig om in jul voorgangers se voetspore te volg en selfs beter te doen om vanjaar weer die 100%-merk te behaal,” het Kgetjepe gesê.
Hy het die skool ook uitgedaag om vanjaar en in die toekoms nie net 100%-slaagsyfer te verwerf nie, maar ook die top graad 12-leerder in die provinsie op te lewer.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: Regeringsamptenare wat PHS verlede Donderdag besoek het is voor, superintendent-gene­raal van die onderwysdepartement, Beauty Mathuwana, kringbestuurder, Maggie Ratale, Polokwane uitvoerende burgemeester, Thembi Nkadimeng en speaker van die Limpopo-wetgewer, Polly Boshielo. Agter is Capricorn uitvoerende burgemeester, John Mpe, LUR vir onderwys, Ishmael Kgetjepe en PHS-skoolhoof, Willie Schoeman. 

 

Exit mobile version